ToekomsVenster: Jesus se groot opdrag

gebed-hand-arm-vingers

Foto: Dev/Unsplash.com

Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die Evangelie aan die hele mensdom. – Markus 16:15

Hierdie woorde van Jesus word die “groot opdrag” genoem. Ons vind dit in verskillende vorme in al die Evangelies maar die saak staan vas, ons word geroep en uitgestuur.

Die gedeelte verteenwoordig nie ʼn versoek, goeie gedagte of wens van Jesus se kant af nie. Dit is wat volgelinge van Jesus doen, hulle nooi ander uit om eweneens volgelinge van Hom te word. Dit is hartseer die kerk somtyds traag is wanneer dit by die gehoorsame uitvoering van hierdie opdrag kom. Jesus verwys daarna wanneer Hy sê dat die oes ryp staan op die land maar dat die arbeiders min is.

Johannes 4:35 – Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes

Matteus 9:37 – Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.

Miskien is die rede dat Christene nie geredelik aan hierdie opdrag uiting gee nie dat hulle onbekwaam voel. In onsself is ons sonder twyfel onbekwaam maar juis daarom het Pinkster aangebreek.

Jy sal onthou met hoeveel vrymoedigheid Petrus en die apostels die Evangelie verkondig het na die uitstorting van die Heilige Gees. Die vrymoedigheid waarmee hulle opgetree het het die besoekers en pelgrims aan Jerusalem in die hart gegryp. Die Bybel sê dat hulle die groot dade van God verkondig het.

Handelinge 2:7 – Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs.”

Elke kind van die Here het ʼn storie om te vertel. Elkeen se storie is so uniek soos sy vingerafdruk. God werk soewerein en oorspronklik in elke mens se lewe. Die Evangelie bly dieselfde maar hoe dit na jou toe kom en wat dit in jou hart tot stand bring is merkwaardig oorspronklik. Jou getuienis oor Jesus is net ʼn eerlike vertelling van wat Jesus vir jou beteken, hoedat geloof in die Evangelie jou lewe impakteer het en steeds doen. Mense sal met jou identifiseer, moenie stilbly nie.

Geloof en bekering is die Here se saak. Hy doen dit deur sy Gees. Ons hoef mense nie te oortuig of oor te haal om in Jesus te glo nie. Moenie die vrug ryp druk terwyl die persoon met wie jy gesels nog nie gereed is om die belangrike stap te neem nie. Jy is net die boodskapper wat die Goeie Nuus oordra dat mense wat in Jesus glo die ewige lewe as ʼn teenwoordige en toekomstige werklikheid het. Die sonde wat skeiding gemaak het is weggeneem. Ons kan die Vader met vrymoedigheid nader.

Hoe maak jy met die groot opdrag?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kornel ·

So waar. Na 8 jaar verwag my vrou ons tweede kind. Waar ons nooit gedink het dit sou of kon gebeur het nie.
Ons lewens pae het verander en ons is so bly en dankbaar daaroor.
Ons het ons n pragtis meisiekind en word n seun ruiker.
Loof en Prys die Here, Hy is goed vir ons en ons weet vandag, gaan Hy ons Lewe nog verander.
Dankie Here.

Rox ·

Jesus is elke Dag en nag teenwoordig in ons Lewens, ek weet ek kan altyd op Hom vertrou. Dankie Hemelse Vader. AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.