ToekomsVenster: Ken jy die krag van gebed?

gebed-hand-lig

Foto: Aachal Lal/Unsplash.com

Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi. En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie. Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.” Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na ‘n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uit weggegaan. – Markus 11:15-19

Ons ken Jesus as die saggeaarde en vredeliewendste mens op aarde. Daar was volgens Skrifgetuienis min geleenthede waar Jesus kwaad was. Die meeste verhale vertel van sagtheid, deernis, omgee, herstel en bemoedig. Hy is toeganklik en veral in die Markus Evangelie lees ons van die menigte mense wat Hom gevolg het. ʼn Mens volg nie ʼn onvriendelike en kwaai mens nie. Jesus was nederig en soos die teks sê, “nederig van hart”.

Maar daar was ʼn ander kant van Jesus wat somtyds na vore tree. Dis die ywer vir die eer van sy Vader. Dis ʼn onverbiddelike oorgawe aan die saak van die Een wat Hom gestuur het. Wanneer die eer van sy Vader in gedrang gebring word tree Jesus onverbiddelik op. Hier is ʼn uitnemende voorbeeld daarvan en ʼn tydige waarskuwing dat ons by die kern van die Evangelie moet bly en nie genade gebruik as ʼn geleentheid om persoonlike wins, eer en waardering te verkry nie.

Die tempelterrein is die ene aktiwiteit maar dis nie goddelik van aard nie. Dis koop en verkoop, dis omset en wins, dis persoonlike verryking in die naam van godsdienstigheid. Dit sal nie deug nie. Die hoofsaak moet die hoofsaak wees.

“My Vader se huis is ʼn plek van gebed, aanbidding, toewyding”. So het mense Jesus nog nie gesien nie. Vandag sou Hy diep in die moeilikheid gewees het. Met ʼn sweep in die hand keer Hy die tafels van materialisme om en verjaag die handelaars.

Nuwe Testamenties is elkeen van sy kinders individueel en gesamentlik tempel van die Heilige Gees. Waarmee hou die tempel hom besig? Waarmee hou die kerk haar besig?
Geld is ʼn onsimpatieke meester om voor te werk. Iemand het gesê dit gaan meermale vir die kerk oor die drie G’s, geld, geboue, getalle. Dis niks minder en meer as afgodsdiens nie. Dis ver verwyderd van God se bedoeling.

Hoe lyk jou toewyding vandag? Waaroor gaan dit ten diepste? Watter rol en plek speel persoonlike toewyding in jou lewe? Ken jy die krag van gebed?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.