ToekomsVenster: Kies om in beloftes te glo

liefde-slotte-slotbrug

(Foto: Sylwia Bartyzel/Unsplash)

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.” − Matteus 6:31

Daar word vertel dat die werk wat ʼn persoon in die beheertoring van ʼn lughawe doen van die mees uitputtende en senutergende werke is wat gedoen kan word. Dit maak sin as ʼn mens dink aan die enorme verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan. Vliegtuie vol passasiers land en vertrek heen en weer. Sou ʼn aankomende vlug en ʼn vertrekkende vlug op dieselfde baan beland, kan die gevolg katastrofies wees.

Geen vliegtuig mag ook sonder die nodige klaringsdokumente land nie. So ʼn vlug sou sondermeer weggewys word om ʼn ander heenkome te vind.

As gelowiges kan ons taak met die van ʼn amptenaar in die beheertoring vergelyk word. Maak seker dat die vliegtuie wat wil land die nodige dokumentasie en klaring het. Godverheerlikende, positiewe en opbouende gedagtes mag land. Negatiewe, pessimistiese en ongelowige neerslagtige gedagtes moet maar verby hou. Verklaar duidelik: “Hier gaan julle nie land nie”.

In die praktyk is ons gedagtes meermale die landingstrook van ʼn mengelmoes van gedagtes. Iewers tussen gister en môre gaan vandag by ons verby.

Oor gister worstel ons met selfverwyt en minderwaardigheid. “As ons tog net met meer onderskeiding opgetree het. As ons net beter leiding gegee het, beter toesig gehou het, beter voorberei het”. Midde die gedagtes ontwyk die vrede ons.

Anders is ons met môre besig. “Sal ek dit kan doen en is ek bekwaam genoeg? Sê nou die mense verwerp my, wat gebeur as ek nie suksesvol is nie?”.

Botsende gedagtes wat nêrens heen lei nie. In die proses is die oomblik vergete en funksioneer ek op outomaties.

Mag ons in 2023 beter besluite maak, ons gedagtes onderwerp aan God, kies om sy beloftes te glo en aan twyfel nie soveel gesag te gee nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.