ToekomsVenster: Kinders is ’n wonderlike geskenk

(Foto: Phil Hearing/Unsplash)

ʼn Laaste verwysing na die huweliksformulier en sekerlik die mooiste deel daarvan vir my:

As die Here aan julle die voorreg gee om kinders te hê, maak hulle groot met die dubbele versekering: Ons is gebore uit die liefdesverbond tussen ons ouers en ons leef as huisgesin uit die genadeverbond wat die hemelse Vader met sy kinders in stand hou.

ʼn Mens “kry nie kinders”, om dit sommer reguit te stel, om ʼn sukkelende en ongelukkige huwelik te red nie. Kry eers dinge by die huis reg voordat daar met ʼn gesin begin word. Kinders is ʼn sakrament van die onderlinge liefde wat daar tussen die pa en ma is. Kinders moet dit weet, dit sien en dit hoor; pappa en mamma is lief vir mekaar, daarom is ons hier.

Uiteraard moet kinders verstaan dat dinge nie altyd vlot tussen ouers verloop nie. Dit is twee unieke individue wat met mekaar in die huwelik getree het. Die een party gaan nie in die ander een op nie. Albei staan op hulle eie voete.

Die een is nie die ander se steunpilaar nie. Ja, ek weet dat ons dit spreekwoordelik sê, maar as die ander jou gedurig moet regop hou, is daar fout. Jy het twee bene, staan daarop. Moet ook nie toelaat dat die ander party jou so inpalm dat jy later geen individualiteit meer oor het nie.

Jy is jou eie mens. Koester dit.

Terug by die kinders.

Kinders moet ook by pappa en mamma hoor hoe mense van mekaar verskil. Hulle moet hoor dat praat die aangewese weg is. Stilstuipe vir korter of langer periodes is kinderagtig. ʼn Mens praat totdat daar ʼn oplossing kom. As dit nie wil vlot nie soek julle hulp. Daar is meer op die spel as net julle twee. Daar is nou ʼn gesin na wie omgesien moet word.

Of ouers agter geslote deure oor hul probleme praat en nie voor die kinders nie, is iets waaroor mense van mekaar mag verskil. Solank die kinders die opmaak beleef. Solank die kinders hoor en ervaar hoe ʼn mens vergewe en mekaar se swakhede verdra.

Die tweede gedeelte van die aangehaalde paragraaf uit die huweliksformulier is ewe belangrik. Ons leef uit die liefdesverbond tussen ons ouers en as gesin leef ons uit die genade Verbond wat God met sy kinders in stand hou. Dit demonstreer ouers deur saam met hul kinders, as gesin, uit die Bybel te lees en te bid.

Saam die erediens te besoek, saam te dien in God se Koninkryk, saam die wil van die Here onderskei.

Kinders is so ʼn wonderlike geskenk. Ons verantwoordelikheid teenoor hulle is onbeskryflik groot. Dank die Here dat die Gees ons daarin bystaan.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.