ToekomsVenster: Kom buig in aanbidding

loof-lofprysing-aanbidding

(Foto: Matt Botsford/Unsplash)

“Kom ons gaan sy woning binne, kom ons buig daar in aanbidding voor Hom.” – Psalms 132:7 (AFR83)

Dis my voorreg om lof en aanbidding by die gemeente te lei. Ons het ʼn pragtige musiekspan wat oggend en aand by die eredienste optree. Ons sing hartlik aan die totale spektrum van geestelike liedere wat beskikbaar is.

Elke gemeente het sy eie aard, ek vertel wat by ons gebeur. Die lidmate in ons gemeente het ook vrymoedigheid om liggaamlik mee te doen aan die lof en aanbidding van die Here. Handeklap en om somtyds hande in die lug steek, is nie vreemd nie.

Ek is gemaklik met alle vorme van aanbidding, en kuier net so lekker saam met mense wat op ʼn ander manier aanbid.

Op Dinsdag en Woensdagaande oefen ons vir Sondag se eredienste. Ons probeer ons bes om vars en nuut te bly met dit wat aan die gemeente voorgedra word.

Dit is weliswaar net ʼn oefening, maar die liturgiese ruimte waar die oefening plaasvind word telkemale ʼn ontmoetingsruimte. Die lirieke van die liedere wat ons sing en die melodieë pas soos ʼn hand in die handskoen. Dit skep ʼn atmosfeer waarbinne die teenwoordigheid van die Here beleef word.

Sommige mense kyk na die lof en aanbidding in ʼn gemeente en wens dat dit so gou moontlik wil verbygaan. Hulle sê hulle is daar om die preek te ontvang. Hulle hou van ʼn gemeente en ʼn prediker wat hulle geestelik voed.

Die waarheid is egter dat hierdie voedingsproses ʼn persoonlike saak is. Dit is God, die Heilige Gees en die Woord van God wat jou voed, nie die prediker nie. Dit is in Psalm 23 wat die Here sy kinders uitnooi om te kom aansit en dit te geniet wat Hy voorberei het.

Aanbidding is integraal deel van die gebeure tydens die erediens, of dit nou “tradisioneel” of “kontemporêr” plaasvind.

Iemand het gesê, wie sing, bid twee keer. Liedere wat meriete het, is niks anders as verkondiging of gebed nie.

As dit verkondiging is kom God aan die woord. As dit gebed is, kom jy aan die woord.

Ongeag wat die lied verteenwoordig, dit is ʼn heilige ruimte waarin ʼn egte ontmoeting plaasvind.

Ek het die voorreg gehad om ʼn week of wat gelede, tydens die oggenddiens, die aanbidding te begelei. Al die musikante kon nie opdaag nie en ons het met ʼn klein groepie gewerk.

Die Here is nie afhanklik van hoeveel musikante opdaag nie. Waar Hy in Gees en Waarheid aanbid word, is hy teenwoordig. Ek mag my verbeel, maar dit was kompleet asof die engele saamsing.

Dit het ʼn onuitwisbare indruk op my gemaak.

Hoe beleef jy die lof en aanbidding in jou gemeente?

Wens jy ook dat hulle dit wil kortknip sodat die preek kan plaasvind, of verteenwoordig dit die eerste fase in jou ontmoeting met die lewende God?

Mag jy nuut dink oor musiek in die gemeente.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.