ToekomsVenster: Kom ons praat oor sonde

(Foto: Denny Müller/Unsplash)

“As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” – 1 Johannes 1:8-9

Sonde is nie ʼn gewilde onderwerp nie en dit is heeltemal verstaanbaar. Wie wil oor iets so negatief en dikwels veroordelend praat?

Daar is genoeg negatiwiteit in hierdie wêreld dat ʼn mens tydig en ontydig aan sonde herinner moet word. Is die kerk nie so leeg omdat dit vir te lank sonde as tema van bykans elke erediens gehad het nie?

Elke Sondag moet ʼn mens hoor dat jy sondig is, dat die Here teleurgesteld is in jou en dat jy jouself moet bekeer.

Sjoe, is die eise van die dag nie eers oorweldigend genoeg as om voortdurend aan jou eie tekortkominge herinner te word nie.

Dit is egter belangrik dat ons oor die onderwerp praat.

Vir eers moet ons seker maak dat wat as sonde beskryf word, nie iemand anders se voorkeur of afkeer is nie. Ons vind dit oënskynlik maklik om te besluit wat reg en verkeerd is en om mense toegang tot God se koninkryk, ook sy kerk, te ontsê omdat hulle oënskynlik sondig is.

Dan vergeet die persoon wat ander van die verkeerde wil oortuig van die balk in sy eie oog.

Dit beteken nie dat ons nie ʼn verantwoordelikheid het om mekaar op die geloofspad te help nie. Om iemand wat verkeerd optree in liefde te probeer reghelp, is inderdaad deel van ons roeping as medegelowiges. Ons praat van onderlinge vermaning. Dit hoort by Christene. Ons skuld dit aan mekaar.

Sondebelydenis in die erediens is belangrik.

God druk nie by wyse van spreke sy vinger in ons oog en verwyt ons oor die verkeerde keuses, ja selfs onverskilligheid, wat ons openbaar nie. Die Here oortuig van sonde, oordeel en geregtigheid, leer die Bybel ons.

Hy roep ons op om terug te keer na die pad wat Hy uitstippel.

Die duiwel werk anders. Hy veroordeel, skryf af, laat jou minderwaardig voel, vertel vir jou die leuen dat die Here moed opgegee het met jou.

Hy vra waarom die Heer hoegenaamd vir jou sou wou liefhê, jy en ek wat Hom so teleurstel.

Dit is juis die verrassende aspek van ons God. Hy gee nie met ons op nie. Hy roep sonder ophou. Hy roep terug, Hy wag dat ons soos die verlore seun in nederige afhanklikheid sal terugkeer.

Sonde is nie die einde van die pad nie.

Dis die deur na ʼn nuwe begin.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.