ToekomsVenster: Kom praat met God

Argieffoto (Foto: Jon Tyson/Unsplash)

“Jesus was êrens op ʼn plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: ‘Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het’.” – Lukas 11:1 (AFR83)

Die “Ons Vader”-gebed is so bekend, ek dink daar is min Christene wat dit nie met oortuiging kan voordra nie. Betekenisvol is dat dit die gebed is wat Jesus sy dissipels geleer het toe hulle hom vra hoe hulle moet bid.

Duidelik was vertonerigheid, baie woorde en opgesmuktheid nie deel van Jesus se onderrig nie. Inteendeel, kry ʼn stil plek waar jy en jou Vader alleen kan wees en bid tot Hom wat alles sien en hoor.

ʼn Mens sou verwag dat Jesus ʼn aantal moeilik haalbare riglyne sou kon neerlê vir effektiewe gebed. Hy sou kon sê, gebede moet lank wees, netjies gestruktureer wees, taalkundig korrek wees. Hy sou ʼn hele aantal waarskuwings kon rig, minimum vereistes stel vir effektiewe gebede wat ʼn kans staan om verhoor te word. Hy sou die lewe vir gelowiges baie moeilik kom maak wanneer dit by gebede kom, maar Hy doen dit nie.

Gebed verleen toegang tot God Drie-enig.

Die woorde “Ons Vader” neem die bidder in die teenwoordigheid van die allerheiligste God in.

Dit klink te goed om waar te wees.

Is God regtig so toeganklik?

Is dit so maklik om te bid en met die Heilige te praat?

Die waarheid is dat die Vader jou hartlik uitnooi tot gebed en dit so eenvoudig en toeganklik maak, dat die eenvoudigste persoon en die kleinste kindjie in sy teenwoordigheid kan instap.

Aan die ander kant is dit so dat gelowiges in die teenwoordigheid van God leef.

Paulus roep ons op om gedurig en voortdurend te bid. Dit beteken doodgewoon dat gebed ʼn lewenshouding is.

Tog is ʼn bietjie struktuur in ons gebede nie te versmaai nie. Dit help ons om ons gedagtes te orden en darem ietwat intelligent aan die gesprek met God deel te neem.

Kom ons bekyk ʼn paar strukturele merkers gedurende die res van hierdie week.

Vandag is die uitnodiging egter dat jy eg kinderlik, eg-mens en afhanklik met God sal praat.

Praat oor jouself, die mense rondom jou en praat oor Sy plan vir jou lewe.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here U sê in Rom 8 as ons nie die woorde kan kry om te bid nie staan die Gees ons by… Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.