ToekomsVenster: Kroon van die skepping

vreugde-sonsondergang-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” – Genesis 1:26-27 (AFR53)

Gedurende hierdie week wil ek die fokus laat val op die dinge wat die lewe die moeite werd maak. Daarmee sê ek nie dat swaarkry, uitdagings en selfs trauma nie sinvol is nie. Die gevaar is groot dat die eise van elke dag ons van ons lewensvreugde en glimlag kan beroof.

Derhalwe nooi ek jou uit om saam met my die lewe te verken en die goeie gawes wat God gee te herontdek.

Ek wil vandag by jou begin: Beelddraer van die lewende God, kroon van die skepping, uitdrukking van God se kreatiwiteit en liefde.

Nadat die Here die mens gemaak het moes Hy breed geglimlag het. Hier is iemand met wie Hy in gesprek kan tree, wat kan reageer op sy stem en dit kan herken. Hier is iemand wat in alle opsigte, behalwe om self God te wees, soos Hy is.

Soveel vertroue het God in sy handewerk gehad dat hy summier die ganse skepping, alles wat Hy so vernuftig geskep het aan die mens oorhandig het om op te pas.

Hy het die mens met ruimtelike genade omring en komplimenteer met ʼn daaglikse besoek.

Die Bybel sê in die aandwindjie het Hy die mens opgesoek en kom gesels.

Die res is geskiedenis en dit is nie waar ons fokus val vandag nie. Inteendeel.

Ons fokus word in verwondering en dankbaarheid gevind. Ek en jy is soos God. Trouens, dit is wat Psalm 8 ons leer. Ondenkbaar en verhewe, ver van gewoon of weglaatbaar.

Die kinderliedjie “Die Here het my mooi gemaak” is baie bekend. Kinders sing dit luidrugtig en spring op en af van en met uitbundige vreugde. “Dit is my koppie, my lyfie en my voete” sing hulle terwyl hul na die liggaamsdele wys.

Miskien moet grootmense die liedjie begin sing. Die voorreg om liggaamlikheid te geniet. Koppie, lyfie en voetjies ingesluit. Herontdek die skoonheid van wie jy is. Merkwaardig.

Ons is meer as liggaamlikheid.

Ons is intellektueel begaafd en bemagtig.

Ons kan dink, redeneer, dissekteer, kommunikeer.

Dink daaraan en vier die genade.

Ons is emosionele begaafd. Ons kan lag en huil, stil wees en uitbundig ekstaties skree as ons span ʼn drie aanteken.

Vandag vier ons jou. Kyk na jouself, trek jou beste uitrusting aan, loop trots dankbaar in die gange van jou werkplek, spandeer tyd aan jouself.

Vier jou menswees.

Dit gaan verby.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.