ToekomsVenster: Laat die Here jou skud

pekanneute

Foto: Dobbi/Flickr.com

Ek het die groot voorreg gehad om in Hartswater in die Noord-Kaap ’n Pinksterdienste aan te bied. Die Here was goed en getrou en ek ry vanoggend huis toe. Verlang darem nou net te veel.

Die plaaslike leraar, ds. Martin Coetzer, het my soggens aan sommige van die gemeentelede gaan voorstel waaronder verskeie boere. Die omgewing produseer ʼn gawe verskeidenheid produkte en water word op indrukwekkende wyse uit die Vaalhartswaterskema voorsien.

Daar word onder andere pekanneute geproduseer en dit is ʼn interessante aangeleentheid. Vroeër dae moes die ryp neute van die boom geskud en van die grond af opgetel word. Nou met tegnologiese hulpmiddele word bykans alles met masjinerie gedoen, die bome word selfs so gesnoei.

Martin was baie opgewonde dat ek sal sien hoe die vrugte van die bome af geskud word met die hulp van tegnologie. Iets soos ʼn knyptang vou om die onderste deel van die boom en begin hom dan skud. Sowat van skud het jy nog nie beleef nie. Dit is asof daardie plant tot in sy wese geskud word en in die proses val alles, nie net die vrug nie maar ook dooie blare en takkies van die boom af tot op die grond. Enkele oomblikke later staan die boom daar gestroop van alle bagasie. Klaarblyklik is dit ook baie goed vir die wortelstelsel.

Soms het die Here nodig om ons te skud. Ons dra te veel bagasie wat die reis vermoeiend maak. Ons energie, fisies, emosioneel en selfs geestelik word getap en ons het min om te wys. Ek wonder stellig of God nie besig is om die geloofsgemeenskap in Suid Afrika ʼn bietjie te skud nie.

Die kerk het so ʼn skud nodig. Ons is altoos besig met goed wat met die essensie van die Evangelie min te doen het. Terwyl ons stry gaan die wêreld letterlik en figuurlik verlore.

Miskien wil jy die Here vra vir ʼn genadige skud. Hy doen dit sagkens maar help jou om vry te kom van onnodige laste. Onvergewensgesindheid, vooroordele, bitterheid, vooroordeel, kritiek en agterdog is van die dinge waarvan ons gerus maar kan vrykom.

Mag jy die Gees se skud beleef.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Irma ·

Ek en trouens my hele lewe, het so ‘n skud nodig.
Baie dankie vir hierdie boodskap.

Frieda ·

Dankie vir hierdie boodskappie ek weet dat diè soort skud mens se hele lewe kan verander ten goede!!
Dankie vir elke dag se boodskap ek mis dit vir niks!!

Lena Jonk ·

Hierdie boodskap was nou vir my pragtig, nou besef ek ook hoe Jesus my ook soms moet skud om al die droe blare af te kry en die vrug wat ek in my tyd gelewer het ook weer opnuut beter en vrugbaarder kan maak deur Sy Genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.