ToekomsVenster: Leë blikke maak die meeste geraas

(Foto: JosepMonter/Pixabay)

Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” – Matteus 5:37

My voorliefde vir gesegdes is reeds bekend. Dit is asof my oog daarop ingestel is en wanneer ek dit lees hoor ek onmiddellik die Evangelie.

So lees ek (maar kry dit nie nou opgespoor nie) met verwysing na ’n moeilike vergadering wat die NUK van die heersende politieke party onlangs gehou het die uitdrukking raak – leë blikke wat straat afrol.

Leë blikke maak die meeste geraas, en van geraas het ons meer as genoeg in Suid-Afrika. Beloftes en voornemens is dikwels nie eers die papier werd waarop dit geskrywe staan nie. Tientalle gemeenskappe betoog bykans daagliks oor die lengte en breedte van ons land oor beloftes wat nie nagekom word nie.

Uiteraard is ons fyn ingestel op ander se gebreke in die verband sonder om te vra in watter mate dit dalk ook van ons waar mag wees.

Klein dingetjies soos “ek sal vir jou bid, ek skakel jou, ek stuur vir jou, ek doen navraag, ek kom terug na jou toe” bly in die lug hang sonder dat daar iets van gekom het.

Wie nie in die klein dinge getrou is nie kan nie met die groter dinge vertrou word nie. Die splinter in ons buurman se oog, veral as dit die owerheid is, gee aanleiding tot baie frustrasie en dit is heeltemal te verstane. Die balk in ons eie belemmer ons uitsig sonder dat ons daarop ag slaan.

Hoe lyk dit egter met die mooi voornemens en beloftes wat jy teenoor God, jouself selfs en ander gemaak het?

“Op my erewoord” het ons altyd as kinders gesê. Meer ekstreem, “ek sweer”.

Tog sê die Woord: “laat jou ja, ja wees en jou nee, nee”. Die res is soos leë blikke wat straat afrol.

Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ’n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God, nie by die aarde nie, dit is die rusplek vir sy voete. – Matt. 5:34

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.