ToekomsVenster: Leef verantwoordelik en in eerbied

gebed-seun-skemer-sonsondergang-deur-juanita-badenhorst-2018-06

(Foto: Juanita Badenhorst)

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. – Efesiërs 2:4

Om barmhartigheid te bewys, veral wanneer iemand anders dit nie verdien of daarop kan aanspraak maak nie onderstreep die ryke betekenis van die woord nog meer.

Hulle het geweier om te luister, hulle het nie die wonderdade onthou wat U vir hulle gedoen het nie. Hulle koppe was hard, hulle het in verset gekom en wou in hulle koppigheid terug na hulle slawerny. Maar U is ‘n God wat vergewe, genadig, barmhartig, lankmoedig, vol liefde. U het hulle nie verlaat nie. – Nehemia 9:17

Die feit dat God ons lief het en soos bo gedemonstreer telkens ’n nuwe begin maak, mag ons nie in die versoeking bring om sy genade goedkoop en vanselfsprekend te interpreteer nie.

Dit is goed dat ons mekaar herinner dat daar ook aan die barmhartigheid van die Here ’n einde gekom het toe sy volk na die vreemde (Babel) weggevoer is. Ontrou en onverskilligheid bring boonop soveel hartseer en verdriet. Dit is doodgewoon dom om met God se genade te speel.

Die bekende gedeelte in Romeine maan ons om die genade van God nie as vanselfsprekend te aanvaar nie. Dit gebeur wanneer ’n mens soos sommige in die gemeente van Rome redeneer dat sonde die genade van God laat toeneem. Hoe meer jy sondig, hoe meer genade ontvangs jy.

Nee, sê Paulus :

Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? – Rom. 6:1-2

Dit mag so wees dat die Here na die 70 jaar van vervreemding Israel laat terugkeer het na hul geboorteland. Wat hul egter daar gevind het, was ’n skadubeeld van vervloë se dae. Ongehoorsaamheid gaan met ’n hoë prys gepaard.

God is getrou en sal die werk wat Hy in jou begin het klaarmaak. Dit troos wanneer ’n mens in die maalkolk van sonde vasgevang word. Dit kom egter teen ’n hoë prys.

Leef verantwoordelik en in eerbied teenoor die Here en mekaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.