ToekomsVenster: Leer by Jesus

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Jesus het geantwoord: “Gaan sê vir daardie jakkals dat Ek sal aanhou om vandag en môre duiwels uit te dryf en genesingswonders te doen, en op die derde dag sal Ek my doel bereik. Ja, vandag, môre, en die volgende dag moet Ek voortgaan op my reis. – Lukas 13:32-33

Dat die lewe buitengewoon baie van ons vra, is nie altemit nie. Benewens Covid-19 is daar ontelbare uitdagings wat mense in die gesig staar. Die tydsgewrig waarin ons lewe is kompleks en uitdagend. As dit nie vir die Here se bonatuurlike bemagtiging is nie sal ons nie staande bly nie. Die genade om aan te hou ten spyte van en te midde van, kom van God alleen.

Daar word soveel geskryf oor die emosionele impak van Covid-19. Mense is hartseer, bevrees, angstig, onseker, ander opstandig en kwaad. Ek wonder waar jy jouself op die emosionele spektrum bevind vandag? Ek wonder ook wat dit is wat jou ontsenu en onseker laat?

Ek lees onlangs ʼn ontstellende berig onder die opskrif: “Die mensdom is gedoem, sê jeug”.

Navorsing is in verskeie lande van die wêreld gedoen om die gemoedstemming van jongmense, ouderdom 16 tot 25 jaar, te bepaal, veral in die lig van klimaatsverandering en uitdagings wat daarmee verband hou. Dit is nie van gister af dat wetenskaplikes ons waarsku dat die aarde soos ons dit ken nie oneindiglik kan voortgaan om ons te huisves, gegewe die wyse waarop ons dit gebruik en uitput nie. Die jeug voel bedreig en onveilig in so ʼn wêreld.

Die sinsnede wat my onkant gevang het lui as volg:

“Die jongmense voel verraai, verwerp, geïgnoreer en moreel verwond.”

Ons praat hier van die leiers van vandag en more, ons toekoms, die vergestalting van ons hoop.

Hoef ek meer te sê as dat ons met enorme uitdagings gekonfronteer word?

Het ons ons jongmense verwaarloos en weerloos gelaat teenoor die uitdagings van ʼn post-moderne wêreld?

Dit laat ʼn mens met die vraag of jy wat hier lees en luister in staat is om hierdie uitdagings te hanteer?

As ons wat die voorbeeld moet stel met ons hande in ons hare sit, watter voorbeeld stel ons dan vir hulle wat in ons voetspore moet volg?

Neem my dit nie kwalik as ek sê dat ek baie bekommerd is en sal moet nadink oor die impak van my eie geloofslewe en die voorbeeld wat ek stel. En jy?

Ons sal by Jesus moet gaan leer – vandag, môre en in die toekoms – en uitdrukking gee aan ons doel op aarde.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Sjoe, Jannie, miskien moet jy ‘n reeks oor hierdie onderwerp oorweeg. SO aktueel.
Mens praat, anders as in die ou tyd, met jou kinders openlik oor wat nou weer verkeerd in die land/wereld is. Mens doen dit met die bedoeling sodat hulle vinniger uit hulle “tiener-slaap” kan wakker word, en bewus kan word wat in die wereld aangaan, om hulle sodoende beter “toe te rus”. Maar is dit werklik toerusting as jy jou frustrasies, onsekerhede, vrese, magtelose woede ens met hulle bespreek en as’t ware oordra? Soos met alles is daar seker maniere en maniere, maar mens doen seker eintlik meer kwaad as goed. En ek lê dit voor my eie deur ook.
Wat ek egter altyd tydens so ‘n gesprek by hulle bepleit is dat hulle hul krag en hulp by die Here moet soek, hulle totale afhanklikheid aan Hom moet bely. In Sy alwysheid het Hy dit goed gedink om ons kinders in hierdie moeilike tydvak te laat leef en sal Hy hulle toerus, krag en wysheid gee. Met hulle hande altyd in die Here se hand.

Yvonne ·

Frank…so bid ons vir ons kinders in hierdie uitdagende tye…..soos die leuse van n jong dogter….lig jou ken, en ken jou LIG

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.