ToekomsVenster: Loop jou skoene deur vir die Evangelie

(Foto: Christian Roßwag/Unsplash)

“Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.” – Efesiërs 6:14-15

Die bereidheid en beskikbaarheid om die Goeie Nuus met ander te deel vorm deel van die wapenrusting wat God gee.

Daar is min dinge in die wêreld wat ʼn mens se geloofslewe soveel energie gee as om met iemand anders oor die Here te praat.

Jou getuienis is ʼn vername stuk toerusting wat God gee waarmee jy staande kan bly in die stryd van die geloof.

Elke gelowige het ʼn getuienis.

Immers, ons is nie soos Johannes vervul met die Heilige Gees gebore nie.

Die normale is dat ons iewers intens bewus word van God se aanspraak, liefdesaanspraak en verbondsaanspraak op ons lewens. Ons word oorweldig deur God se liefdesverklaring, sy omgee, sorg en nabyheid. Dit kom soos ʼn uitnodiging na ons.

Niemand word gedwing nie. Elkeen het ʼn vrye keuse. Niemand kan God verwyt as hy verlore gaan nie. Elke dag is ʼn geleentheid om God se gawe van die ewige lewe as ʼn teenswoordige en toekomstige werklikheid te omarm.

Jou getuienis is ʼn baie spesiale gawe. Dit is uniek, niemand op aarde en deur die loop van die geskiedenis het dieselfde ervaring of belewing van God gehad nie.

Soos ons DNS verskil en uniek is, is die Here se pad met elkeen van ons uniek. Immers, Jesaja vertel van ʼn God wat ons by die naam roep, wat ons naam op sy handpalm graveer.

Getuienis is drie elemente as jy dit bedink: eers, toe en nou. Maklike struktuur om te bedink en in te kleur.

Toegegee, vir sommige mense is hul ervaring en ontmoeting met God dramaties. Dink aan Paulus op weg na Damaskus.

Baie mense getuig ook dat geloof van kleins af belangrik was. Hulle ouers het vertroue in God op ʼn geloofwaardige wyse uitgeleef. Die keuse om Jesus te volg staan van kleintyd af vas.

Soos mense verskil, verskil ons getuienis, ons belydenis aangaande Christus. Moenie die “eers”-gedeelte gebruik om oor al jou sondes te spog nie. Kry dit verby. Sommige mense se getuienis verdwyn in die skadu van hoe erg die lewe was. Generiese opmerkings is genoeg om mense se aandag te trek. ʼn Paar penstrepe is genoeg. As mense meer wil weet, kan hul jou later vra en kan jy hulle inlig.

Die toe en nou-gedeeltes is van groot belang. Wat het gebeur, hoe het jou ontmoeting, ervaring of selfs konfrontasie met die opgestane Here gebeur?

Vertel watter gewaarwordinge dit by jou losgemaak het.

Hoe het jy geantwoord op sy uitnodiging?

Dan nou, hoe werk God deur sy Gees in jou lewe? Die fokus is op Hom. Hy kry die eer. Hoe het jou lewe, desnoods die lewens van mense wat ruimte met jou deel, verander?

Don Francisco sing: “I’ve got to tell somebody!

Het jy al vir iemand vertel?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.