Matteus 1:18
Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder, Maria, nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.
Die Kersverhaal bly immergroen, maak nie saak hoeveel keer jy dit gehoor het nie. Die onkonvensionele wyse waarop God se plan vir hierdie wêreld ontvou, verras weer en weer.
Gehoorsaamheid gaan met risiko gepaard. Dit kon nie maklik vir Maria gewees het om te hoor dat God haar uitgekies het om buite die eg swanger te wees nie. Die verduideliking?
God is die Pa!
Dis te verstane dat die gestalte van Maria mense deur die eeue aangryp. Haar gewilligheid, gehoorsaamheid en offervaardigheid is ʼn navolgenswaardige voorbeeld. In sommige kringe word sy vereer en dit is nie moeilik om te verstaan nie. Sy word besing en gehuldig. Sy is ʼn voorbeeld van nederige onderwerping.
Lukas 1:38
Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.
Ons glo egter dat sy net so aangewese is op die verlossing as wat enigiemand anders is. Sy is gewoon en tog besonders.
In vergelyking met Maria vra die Here min van ons.
Maria se naam was op die spel, haar verhouding met Josef in gedrang, sy was ʼn verleentheid vir haar familie en ʼn swak voorbeeld vir ander jong dames, maar sy het geweet, haar offer was gering in die lig van dit wat van die Seun van die Mens gevra sou word.
Haar lofrede aan God is besonders:
Lukas1:46-48
En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem.”
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.
In die Heilige jaar 1950 word bevestig deur die Rooms Katolieke kerk dat Maria , moeder van Jesus, met siel en liggaam in die hemel opgeneem is. Die Rooms Katolieke kerk aanvaar die pous hier op aarde as die plaasvervanger van Jesus Christus asook die Katolieke leer wat deur die eeue deur konsiliasie bereik is. Die Katolieke kerk is die grootste Christelike geloof- instansie in die wêreld en al die ander kerke maak deel uit van die Katolieke kerk omrede hulle die Apostoliese geloofsbelydenis en die geloofsbelydenis van Nicea erken en deur hulle lidmate bely moet word.