ToekomsVenster: Moeg en oorlaai

woestyn

(Foto: Keith Hardy/Unsplash)

“Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ʼn duif gehad het, sou ek wegvlieg en ʼn woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly.” – Psalms 55:6-8 (AFR83)

Die jaar het ver gevorder en baie mense voel moeg en afgemat. Die einde is in sig, maar dit is nog ʼn hele drie maande ver.

Vir die wat bevoorreg is om met vakansie te vertrek is dit inderdaad ʼn heerlike vooruitsig. Die meeste van ons sal seker tuinroete rondom die huis doen en dis ook nie sleg nie. Die stadiger pas, die feestelike atmosfeer, die belofte van ʼn nuwe seisoen, die saamwees met jou mense, die lekker eet en kuier is alles baie aantreklik en ʼn mens sien inderdaad daarna uit.

Tog is sommige van ons reeds so uitgeput en uitgewas dat dit voel of die moed ontbreek om nog vir drie maande besig te wees.

Die appèl waarmee die lewe na ons toe kom, is oorweldigend en ʼn mens voel dat jy lank reeds in jou reserwes leef.

Julle weet mos, want wanneer ʼn mens eers in oortrekking ingegaan het is die rente baie hoog.

Solank jou lewe ʼn batige saldo het, kan ʼn mens regkom. Om in die rooi sone te leef is gevaarlik en kom teen ʼn hoë prys.

Die psalmdigter weet waarvan ons praat. Sy versugting is om net te vlug na ʼn plek waar niemand hom ken of kan pla nie.

Hy verlang na ʼn plek van stilte en rus, geen appèl wat op hom gemaak word nie. Niemand trek aan ma se rokpante nie, niemand vra pa vir nog ʼn geldjie vir skooluitstappies nie. Niemand klop aan jou deur en vra raad nie. Niemand beklae sy of haar lot by jou nie.

Los my net uit, is jou versugting. Ek is moeg en moedeloos en uitgeput en oorlaai. Ek het genoeg gehad. Is daar dan nie genade vir my nie?

Daar is so ʼn plek van rus en jy hoef nie na die woestyn te vlieg om verligting te beleef nie. Jy hoef nie arendsvlerke te ontwikkel ten einde by die oase aan te doen nie.

Maak toe jou kamerdeur.

Gesinslede moet weet ʼn toe deur nou en dan beteken los my uit. Ek wil alleen wees en my batterye herlaai.

Maak toe jou kantoordeur. Personeel moet weet dis “ek-tyd”, in Engels “me-time”.

Sit jou voete op jou lessenaar, bestel ʼn koppie koffie en haal die bederfie wat jy in die laai bêre uit en geniet dit stadig en met dankbaarheid.

Maak die Woord van die Here oop.

Lees ʼn Psalm en mediteer daaroor.

Haal asem. In en uit. Kom tot rus. Maak dit deel van jou daaglikse ritme.

So kom jy tog aan die anderkant uit.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.