ToekomsVenster: Moegheid aan die einde van die jaar

(Foto: Unsplash)

“Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.” – Jesaja 40:29

Dit is bykans die einde van die jaar. Baie mense voel uitputting aan eie lyf. Dit is liggaam, siel en gees wat roep na verligting.

Die afgelope paar jaar was moeilik. Ons het nog nie behoorlik van die impak van Covid-19 herstel nie. Intussen het die jaar, wat amper verby is, baie van ons gevra. Die lewe staan nie stil nie en die werk hou nie op nie.

ʼn Paar belangrike dinge kom by my op.

Wees eerlik met jouself. Ons het hierdie gedagtes wat by ons opkom en waarvan die agenda is om ons moegheid en uitputting eintlik net groter te maak.

Dis gedagtes wat begin met – ʼn Christen behoort nie… en wat daarop volg. Dit word verder beklemtoon deur mense wat of ʼn buitengewone vermoë het om stres te hanteer of doodgewoon hulself en ander bedreig.

Christene, sê hulle, mag nie moeg, bang, kragteloos, moedeloos, soekend en vraend wees nie. Iets skort in jou verhouding met die Here, word gesê. Jy moet selfondersoek doen (wat in sigself nie ʼn slegte oefening is nie), maar meermale die gevoel van verslaentheid beklemtoon.

Wanneer laas het jy net aan jouself gevat, in die spieël gekyk?

Wanneer laas het jy teenoor jouself erken, ek is net ʼn mens?

Ek is nie ʼn supermens, robot of masjien nie. Ek het net soveel om te gee en dan is dit klaar en moet dit aangevul word.

Welkom by die mensheid.

God verstaan ons moegheid en weet hoe om ons te verkwik sonder om die stryd en swaarkry nog erger te maak.

Daarbenewens, hê empatie met mense rondom jou wat nie dieselfde stamina en uithouvermoë het wat jy het nie. Gun ander rus. Ondersteun met begrip. Fasiliteer verkwikkings van liggaam, siel en gees. Kyk na die kinders, nooi vir ete, sny hul gras. Doen hul inkopies, maak ʼn afspraak by die dokter, loer in om te hoor hoe dit gaan.

Mense verskil en die feit dat jy kan aangaan beteken nie dat dit ook vir ander moet geld nie.

Uiteraard is dit belangrik om oor jou prioriteite te herbesin.

Waarmee is jy besig en waarom is jy daarmee besig?

Wat sal gebeur as jy die los?

In watter mate bepaal jou werk en besadigdes jou identiteit?

Wie is jy sonder daardie bepaalde dinge wat soveel van jou tyd en aandag verg?

Daarbenewens, is jy seker dit is wat die Here jou gevra het om te doen?

Wie weet, dit staan dalk in die pad van die nuwe seisoen wat die Here wil laat aanbreek, maar jy klou halsstarrig daaraan vas omdat dit jou goed, belangrik, vernaam en betekenisvol laat voel.

Dis amper ʼn nuwe jaar. Probeer jou moegheid sonder dwang en selfverwyt interpreteer en vra die Heilige Gees om aan jou te openbaar wat Hy ook daardeur vir jou wil sê.

Wees goed vir jouself.

Onthou jou lyf moet saam. Jy kan hom nie agter los nie.

Pas jouself op.

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” – Mattheus 11:28 (AFR53)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.