ToekomsVenster: Moenie jou hart verloor nie

(Foto: Jon Tyson/Unsplash)

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie.” – Matteus 7:1 (AFR53)

Menseregte dag het gekom en gegaan. Volgende jaar sal ons weer daaraan aandag skenk, vir een dag daaraan aandag skenk. Intussen sal ons voortgaan om te leef soos ons leef, te doen wat ons doen en te dink soos ons dink.

Ons het gevoelloos geword. Die heersende ontstellende kultuur in Suid-Afrika dwing ons in ʼn toestand van oorlewing in. Elkeen vir homself. Dit is buig of bars, maar ek moet oorleef, al beteken dit dat ander afgeknou word.

ʼn Bekende sakeman het sy eie lewe geneem. Dat die skrif vir hom aan die muur was, is inderdaad só. Dit regverdig egter nie die keuse wat hy uitgeoefen het om eerder sy lewe te beëindig nie.

Tog het ʼn mens empatie, is daar ʼn stuk hartseer oor ʼn lewe wat so tragies eindig. Dan skryf mense in die kommentaarkolomme van die media waar oor sy lewe gepraat word, die woord “lafaard”.

Ek weet nie waarom dit nie lekker sit by my nie. Ek weet nie waarom ek myself nie kan verbly in ander se leed en pyn nie.

Miskien is dit omdat ek nie geld verloor het nie. Miskien is dit omdat ek nie met die teleurstelling moet saamleef dat wat vir my oudag bedoel was, nou weg is nie.

Maar waarom is daar nie ʼn traan in my oog nie?

Waarom dank ek nie die Here dat hy my bewaar het en steeds bewaar van die pad byster raak nie?

Waarom het ek so hard en verhard geraak?

Dan dink ʼn mens aan die Fariseër en die tollenaar se storie in die Bybel.

“Dankie Here dat ek nie soos hierdie sondaar langs my is nie,” roem en bid die Fariseër. “Ek doen, ek gee, ek, ek en ek”.

Die gebed van die tollenaar is weer: “O Here, wees my genadig”.

Ons mag nie toegee aan die harteloosheid van die wêreld nie.

Ons mag nie die vlees-hart wat God kragtens die wedergeboorte gegee het, verloor nie.

Ons mag nie toegee aan gevoelens van haat en veroordeling nie.

Die Bybel sê, dieselfde maat waarmee julle oordeel, sal gebruik word om julle te oordeel.

Mag ek teleurgesteld, hartseer en selfs kwaad wees? Inderdaad. Emosies kom tog van God en is terapeuties.

Dan weer sê die Bybel, moenie ʼn dag kwaad afsluit nie.

Ons moet bid: Vergewe ons soos ons vergewe, trouens, soos U ons vergewe.

Miskien sê of dink jy dalk vandag: “Die standaard wat God stel is te hoog. Ek kan nie daarby kom nie. Ek wil terugbetaal, terugskel en terugvloek. Ek verdien dit nie.”

Maar ek mag nie, nie as ek die Paasgebeure na waarde skat nie.

As daar iemand is wat kwaad met kwaad kon vergeld, was dit en is dit God self.

Tog bid Hy: “Vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie”.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Here vergewe waar ek oordeel en die vinger wys….U genade is vir my genoeg.. Amen

skurweberg ·

Inderdaad so “moenie toegee aan die harteloosheid van die wêreld nie”, sê ek vir myself, want as ‘n mens self skuldig is aan hierdie sonde besef ek dit nou vir die eerste keer in my lewe.

Marietjie ·

Dankie Here!! dat daar in hierdie omgekeerde wêreld van ons, nog mense is met harte, nie net van vlees en bloed nie, maar hulle dat hulle hart ook op die regte pleksit….in hulle borskas…..die plek waar U ons, wanneer ons vergifnis vra, styf toevou in U arms.
Help ons liefdevolle Vader, om nie suinig te wees met die vergifnis en liefde wat U ons so mildelik skenk in hierdie harde en ongenaakbare wêreld nie. Dankie Here,
Amen en Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.