ToekomsVenster: ‘Moenie op jou eie insigte staatmaak nie’

(Foto: Milan Popovic/Unsplash)

“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.” – Spreuke 3:5 (AFR83)

Daar is mense vir wie jy niks kan vertel nie. Hulle weet alles, het alles onder die knie, het niks van niemand nodig nie.

Daar is mense wat ʼn beterweterige houding tot ʼn fyn kuns vervolmaak het. Hulle spesialiseer daarin om ander mense met hul meerdere kennis en insig, sogenaamd, minderwaardig te laat voel.

Hulle sit jou op jou plek en hou jou op jou plek. Hulle is nooit skuldig of aandadig nie. Hul maak geen foute nie. Hulle kyk neer op ander wat nog nie die lewenskuns vervolmaak het nie.

Hulle sê nooit jammer, vergewe my, ek sal daaroor dink, ek dink jy het ʼn punt beet, ek is bly dat jy die moeite gedoen het om met my te gesels nie.

Op sy ergste is dit hulle en die Here. Hulle is op ʼn geestelike frekwensie waar niemand kan bykom nie.

Hulle ontvang openbaringe direk uit die hemel.

Hulle verstaan alles, ken alles en deurdrenk alles.

Die laaste verse van 1 Korintiërs 13 is nie op hulle van toepassing nie, ander mense ken ten dele, verstaan ten dele en verlang na die dag wanneer die diepe geheimenisse van die lewe geopenbaar sal word.

Hulle is skynbaar reeds daar.

Ja, ek pak ʼn bietjie by jou af vandag. Miskien is iets daarvan by my teenwoordig, die dat dit my so grondiglik irriteer.

Maar miskien, net miskien, herken jy jouself ook vandag.

ʼn Leersame gees, selfs tot in jou gryse ouderdom, is ʼn pragtige karaktertrek.

Ek wil so wees.

Ek is seker jy ook.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.