ToekomsVenster: ‘My vrede gee ek aan julle’

(Foto: Sixteen Miles Out/Unsplash)

“Vir ons is ʼn Seun gebore, aan ons is ʼn Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.” – Jesaja 9:5 (AFR83)

Mag ek begin deur my waardering uit te spreek vir die geleentheid wat ek die afgelope jaar gehad het om saam te kuier rondom die Woord van die Here. Jaareinde is om die draai en ek gaan vir ʼn kort tydjie tot verhaal kom. Mag die Kersboodskap jou dra, inspireer en toerus vir jou taak en roeping in hierdie wêreld.

Die onbaatsugtige wyse waarop Jesus sy posisie en plek in die hemel prysgegee, homself verneder en volledig gegee het, inspireer ons om eweneens te streef na ʼn lewe van oorgawe en diens.

Die boodskap van Kersfees, liewer Christusfees, word toenemend verduister. Musiek wat min met die koms van die Verlosser te doen het, word luidrugtig in inkopie sentrums gespeel.

Kersaanbiedinge van allerlei aard is aan die orde van die dag. Dit word nou ʼn “silly season” genoem, hoe hartseer tog!

Uiteraard gaan die lewe voort met sy tientalle uitdagings en geleenthede. Dit is nie asof ons skielik op ʼn verlengde retraite kan gaan en net op die Boodskap van Kersfees fokus nie. Ons moet die gebeure wat daarmee verband hou elke oomblik integreer en uitleef. Ons doen dit oral waar ons onsself bevind. Ons doen dit met nederigheid en liefde, net soos die voorbeeld wat Jesus gestel het.

Een sentrale boodskap van Kerstyd het met “vrede” te doen. Die engele het God se vrederyk aangekondig.

Van vrede is daar min sprake in ons tyd. Die prys vir vrede is reeds betaal, tog betaal soldate aan albei kante in Oekraïne daaglikse die prys vir vrede. Wat ʼn onnodige en hartseer toedrag van sake.

Die oorlog waarna ek verwys is maar een gestalte van onmin en stryd in ons dag. Mense betaal op verskillende maniere vir ʼn vrede wat nie volhoubaar is nie. Die vredesooreenkomste van die wêreld is die ink op die papier nie werd nie.

God se vrede is met bloed beseël, die bloed van sy Seun. Hy het gesê: “My vrede gee ek aan julle, nie soos die wêreld nie, maar My vrede”.

Sy vrede vra na gebroke harte, stukkende harte oor wat ons mekaar aandoen.

In Suid-Afrika, waar die meerderheid mense kragtens hul getuienis gesante van vrede behoort te wees, verrinneweer ons mekaar.

Dit kom in vele gestaltes – elkeen moet sy eie hart ondersoek.

Mag die Here ons harte sag maak sodat die vrede van Kersfees, nee, die vrede van die Christusfees, in ons mag woon en bly.

Weereens, dankie vir die afgelope jaar se saamkuier.

Groot waardering vir jou vriendelike ondersteuning en meelewing.

Vrede vir jou.

Hierdie is die laaste ToekomsVenster-oordenking vir 2022. Nuwe oordenkings sal vanaf Maandag 9 Januarie 2023 beskikbaar wees. Geseënde Kersfees en voorspoed vir 2023.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.