ToekomsVenster: ’n Hoopvolle toekoms

(Foto: Mike Marrah/Unsplash)

“Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” − Klaagliedere 3:21-23

Ons kyk ʼn storie op die kassie. ʼn Pragtige storie met mooi karakters, hartseer verhale en baie trane.

Die hoofkarakter is ʼn weeskind en het op jong ouderdom al ʼn leeftyd agter die rug. Sommige kinders sien en ervaar in die eerste paar jaar van hul lewens meer as wat sommige grootmense in ʼn leeftyd ervaar.

Iewers verwoord sy haar teleurstelling so: die begraafplaas lê vol grafte van verydelde drome.

Sy ontwikkel die vermoë om in ʼn fantasiewêreld te ontvlug. Sy kan ure daar deurbring, skep karakters wat haar stukkende bestaan omseil en vir ʼn oomblik draaglik maak. Ongelukkig moet sy terugkeer na die werklikheid en die trane wat vlak lê.

Gaandeweg egter begin haar storie ander aksente ontwikkel. Daar is mense wat vir haar omgee, haar van hul liefde verseker. Sy ontwikkel hegte vriendskappe waar sy aanvaar word vir wie sy is. Gaandeweg word die begraafplaas in ʼn lushof verander.

Dit gebeur egter eers in haar gedagtewêreld en speel dan gaandeweg in die praktyk uit.

Ek wonder hoe sou jy jou lewe beskryf. Wil jy ook soms sê, noem my Mara, want die lewe is bitter.

Skuil jy agter die stukkend van gister en eergister omdat jy te bang geword het om dit met die lewe te waag.

Ek voorsien dat die storie ʼn merkwaardige einde gaan hê. Ek vermoed dat dinge gaan uitwerk, dat die wiel gaan draai, dat haar drome verwesenlik gaan word, dat sy tot volle verwesenliking gaan kom.

Gister is water onder deur die brug, word gesê. Moenie jou tent daar opslaan nie. As jy moet vertoef, kap die tentpenne liggies in. Môre kom die son weer op.

Môre moet jy verder op die weg na die land van vervulde drome, van hoop.

Weg van die begraafplaas af, op die weg na ʼn hoopvolle toekoms.

God gun jou dit en God wil dit vir jou gee.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.