ToekomsVenster: ’n Tweede kans om mooi te wees

sonneblom-002-pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.” – Genesis 3:6 (AFR83)

“Die Here het ons mooi gemaak

Baie, baie mooi gemaak!”

Trouens, die Here het alles mooi gemaak. Elke keer as Hy klaar was met ʼn skeppingshandeling het Hy gesê: “dis mooi, dis baie mooi”. Toe Hy die mens maak moes Hy breed geglimlag het. Die mens, sy ewebeeld, is die kroon van die skepping.

Toe sien God dat die mens alleen is en tussen al die mooi goed nie iemand vind met wie hy kon gesels nie. Die mens was eensaam. Dis die eerste keer dat God gesê het iets is nie mooi nie. Dis nie mooi dat die mens alleen is nie, Ek gaan iemand maak wat ook mooi is en by hom pas.

Toe vat hy ʼn stukkie van die mens en bou dit verder tot ʼn vrou. Die een kom uit die stof van die aarde en die ander uit die eerste mens. So opgewonde was die mens dat hy sommer onmiddellik verlief geraak het. “Sjoe, maar jy is mooi,” het die mens vir sy eweknie gesê.

“Julle moet mekaar help en al die ander mooi goed oppas,” het die Here gesê. Die twee het dit aanvanklik ter harte geneem en begin om al die ander mooi goed name te gee.

Ons ken die verhaal. Sonder ʼn dag se sorge en ongemak het die mens en sy maat in die paradys geleef. Ongelukkig het hulle hul ore vir die verkeerde geselskap verruil.

Die slang, die bose, die duiwel het besluit om God se heerskappy by die mens in twyfel te trek. “Julle kan soos God wees,” het hy gesê. Dit het nie lank geneem voordat die mens en sy vrou die leuen geglo het en van die verbode vrug geëet het nie.

Toe word goed lelik.

Sonde maak goed lelik, dit maak mense lelik. Nie uiterlik nie, maar innerlik. Verwyte is rondgeslinger toe God hulle met hul ongehoorsaamheid konfronteer. Dis die vrou het die mens gesê en dis die duiwel het die vrou gesê. Dis God het die Satan gesê. Dit was nie lank nie of die lelike het in die mens na vore getree.

Die eerste mens is vermoor en weggesteek asof God dit nie sou sien nie. Toe die Here na die slagoffer vra, het die mens oop oë gelieg.

Van daar af het al hoe meer goed wat God mooi gemaak het, in die slag gebly.

Goddank dat die Here die mens nie so gelos het nie. Hy het sy mooi Seun, sy enigste, gestuur om die mens in sy eertydse glorie te herstel. Dit word die tweede of herskepping genoem. Die mens kon die pad terug na die Paradys vind.

Hoe nader hy daaraan beweeg hoe mooier word hy of sy.

Is jy ook op daardie pad?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.