ToekomsVenster: Nederigheid is aansteeklik

nederigheid

Foto: Galleryhip.com

“Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” – Lukas 14:11 (AFR83)

Ons bly by Lukas hoofstuk 14.

In die Lukas-evangelie is daar minstens tien tafelgesprekke. In hierdie geval is Jesus aan huis van ʼn vooraanstaande fariseër. Dit kan ook egter een van die tipiese gesprekke wees wat na die diens by die Sinagoge plaasgevind het wanneer ʼn besoekende rabbi uitgenooi is om die aanwesiges toe te spreek. Jesus sou dan waarskynlik die uitgenooide rabbi wees.

Jesus vertel ʼn gelykenis na aanleiding daarvan dat hy sien hoe die mense skarrel om die voorste plekke te bekom.

Almal wil belangrik wees, gesien word, erken word, waardeer word, gekomplimenteer word, ons ook. Dit is op sigself nie verkeerd nie. Geen mens kan leef sonder aanmoediging nie. Ons skuld dit om mekaar raak te sien en te bemoedig op die lewenspad.

Die lewe is nie maklik nie en net die feit dat ons elke dag oorleef is alreeds genade. Ver daarvan dat ons die lewe dan nog vir mekaar moeilik sal maak.

In hierdie geval skarrel die aanwesiges om belangrike plekke in te neem. Sommige plekke was gereserveer vir die meer belangrike mense, terwyl gewone mense verder van die gasheer gesit het.

Jesus verwys na ʼn bruilof. ʼn Mens kan jouself nouliks die verleentheid indink van ʼn persoon wat ʼn plek ingeneem het wat vir iemand anders gereserveer is.

Dis goeie raad wat Jesus gee. Nederigheid is aansteeklik as dit eg is, nie ʼn valse en aangeplakte nederigheid waardeur ander mense kan sien nie.

In die gelykenis wat Jesus vertel kom die gasheer of die persoon wat verantwoordelik is vir die orde-reëlings en logistieke na die persoon wat ʼn minder belangrike plek ingeneem het en begelei hom na die plek van eer. Terwyl die gaste hierdie proses gadeslaan styg hierdie persoon se aansien by die ander wat teenwoordig is.

Dit is vir mense baie moeilik om gewoon te wees. Ons wil uitstaan en hou van applous. Die wêreld se applous is kortstondig en mense verander sommer gou van mening.

Wie vandag toegejuig word, word môre op die voorblad van die plaaslike koerant verneder.

Gelowiges beywer hulle vir die applous van die hemel eerder as van die aarde. Gelowiges verlang na die dag wanneer daar gesê sal word: “Mooi so goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou oor veel sal ek jou aanstel, aan in die heerlikheid van jou Heer”, soos in Matteus 25:21.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Flemming ·

Roem van mense, rykdom, pragte
alles vergaan soos mis op die vlei
en sterre wat skiet in donker nagte
het langer lewe as roem kan kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.