ToekomsVenster: Nie alles wat glinster is goud nie

(Argieffoto: pixabay)goud

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” – Jesaja 55:1 (AFR83)

Ek gaan na ʼn vertoning by ʼn vermaaklikheidsplek digby ons. Ek is lief vir musiek en kan ʼn verskeidenheid van genres waardeer. My skoonseun is ʼn kranige en bekende musikant en die vertoning wat die groot Hollywood-treffers verbeeldingryk verpak trek groot en entoesiastiese gehore. Dis lekker verby en ʼn aand wat heerlik deurgebring is.

Op pad na die plek waar die vertoning aangebied word, stap ʼn mens by tientalle geldmaak-masjiene verby. Mense van allerlei aard staan gedienstig voor die geldmasjien wat belowe dat die volgende muntstuk wat daarin gegooi gaan word die beloofde duisende gaan uitbetaal. Oral lui daar klokkies soos wat geld uitgespoeg word.

Mense sit vasgenael, totaal onbewus van wat rondom hul aangaan. Daar is jonk en oud, mans en vroue, wit en swart en bruin. Almal vertrou dat hulle vanaand hier gaan uitstap met sakke vol geld.

Die masjiene laat my aan uittartende narre dink. Dit is blink, kunsmatig, goedkoop, vals, “common” verby. Dis tegelykertyd hartseer en vermaaklik.

Dit is leeg, sonder inhoud. Gleufies wink vir die volgende R5 wat daarin verdwyn – nog een, nog een, nog net een, miskien hierdie slag. So word die geld wat vir die reeds sukkelende huishouding bedoel is, aan Mammon geoffer.

Die houvas word met elke R5 groter, die verslawing is onafwendbaar, die duiwel het gewen.

Ek stap verby en hoor in my gees: “Kom na My toe. Kom koop wyn en melk en brood. Waarom spandeer jy op dit wat nie kan bevredig nie. Ek is die Bron van alles wat mooi en goed en reg is. Vertrou my, ek sal vir jou sorg. Kom vandag, terwyl Ek nog te vinde is”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.