ToekomsVenster: Nie hier nie, beteken nie dood nie

windpomp-sterre-hemelruim-melkweg

(Foto: Emily Goodhart/Unsplash)

“Waarom soek julle die Lewende by dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.” – Lukas 24:5-6

Ons gesels oor die dood, nee, ons gesels nie oor die dood nie want gelowiges gaan nie dood nie. Ons gesels oor die lewe na dié lewe.

As ek van my tuisdorp af na ʼn ander bestemming vertrek, is ek tog nie dood nie, ek is net nie meer “hier” nie. Mense mis my, praat en verlang (hopelik) na my, maar ek is nie weg nie, ek is net op ʼn ander plek.

Soms vertrek mense na bestemmings waar daar geen kontak moontlik is nie. By wyse van spreke is daar nie selfoonontvangs nie of internet is nie beskikbaar nie.

Daar is nie ʼn posdiens nie, dis ver, verwyderd en selfs vreemd.

Ek is nou daar. Ek is nie dood nie, net op ʼn plek waar ek vir nou nie bereik kan word nie.

Miskien gesels mense oor my. Hulle sê hulle verlang en gesels dikwels oor die mooi wat ons saam met mekaar beleef het.

Hulle gesels nie oor my as iemand wat dood is nie. Dood beteken tog dood, klaar, afgehandel, eintlik tot niet, maar dis nie waar nie, ek is nie tot niet nie, ek is net op ʼn ander plek waar ek nie bereik kan word nie.

Van tyd tot tyd vertrek van die mense wat ek geken het ook na die plek toe waar ek myself nou bevind. Ook hulle is nie bereikbaar nie.

Vir my egter, is dit baie aangenaam omdat ek mense wat vir my kosbaar is nou ook by my het. Net soos die wat agtergebly het, kuier ons ook heerlik saam.

Ons, net soos die mense by die “huis”, roep mooi en interessante herinneringe op en lag heerlik daaroor.

Ek dink nie ons verlang nie. Die emosie van verlang bestaan nie waar ons nou is nie.

Ek moet getuig dat die plek waar ek nou is, en die wat by my aangesluit het, nie regtig in gewone taal beskryf kan word nie. Die woorde volmaak, heel, alles, omvattend gesond, gelukkig, tevrede, kom by my op.

Die gedagtes dat ander ook later by ons kom aansluit is wonderlik, maar ons verlang nie soos mense op aarde verlang nie. Ons is tevrede.

Die interessante is dat alle mense, ʼn sekere kategorie mense, die wat geglo het dat daar ʼn ander bestemming is, sal wees waar ek nou is. Dis ons almal se bestemming.

Terwyl ons op aarde is klink dit ver, onwerklik en is ons nie so seker dat dit lekker gaan wees nie.

Nou dat ons, ek, hier aangekom het, weet ek dit verteenwoordig die groot gemis in my lewe. Wat skort is my hier beskore, in oorvloed beskore.

Ek gebruik maar net ʼn metafoor om die saak vir myself ietwat makliker te maak. Dalk help dit jou ook.

Opsommenderwys, hulle wat vooruit is, is alhoewel hulle nie bereikbaar is tans nie, nie dood nie. Hulle is net op ʼn ander plek. Met tyd sal ons by hulle aansluit.

Die Bybel sê die plek waarheen hulle vertrek het, is onbeskryflik mooi.

“Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.” – 1 Korintiërs 2:9-11 (NLV)

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.