ToekomsVenster: Niks is onmoontlik nie

Foto: Jill Heyer/Unsplash.com

Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer Ek iemand stuur om ’n boodskap te bring, en die mense luister na hom, dan luister hulle ook na My. En wanneer mense na My luister, dan luister hulle na die Vader wat My gestuur het. – Johannes 13:20

In aansluiting by gister se ToekomsVenster dat ons groot moet droom en die onmoontlike moet aandurf as die Here ons daartoe roep, vra ʼn mens jouself af waar hierdie soort lewenshouding gekweek word.

Gesinne is die boustene van ʼn samelewing, leer die bekende huweliksformulier ons. Dit word allerweë gesê dat Suid-Afrika se uitdagings baie te make het met die verbrokkelde gesinsstrukture. Daar is ʼn verskeidenhei van faktore wat aanleiding gee tot die toedrag van sake waaronder werkloosheid en armoede seker van die grootste sondebokke is. Gebrek aan opleiding en onderwys, die hoë uitvalsyfer van kinders wat in gr.1 begin maar lank voor matriek uitsak is daarvan ʼn sprekende voorbeeld.

Christene kan nie net skouerophalend van die tendense kennis neem nie. Ons moet inderdaad in ons eie huis begin en desnoods ʼn gesin in ons omgewing aanneem ten einde hulle op die aangewese pad te hou.

“Kinders is ʼn erfdeel van die Here” leer die Psalmdigter ons. Kinders is egter ʼn baie groot verantwoordelikheid, een waarvan ʼn mens eendag sal moet rekenskap gee. Om flou, afgesaag, selfsugtig, verbeeldingloos en voorspelbaar voor jou kinders te leef is skandalig. Tafelgesprekke behoort te getuig van opbouende gesels. Daar moet eerlik gepraat word oor die uitdagings wat die lewe bring en hoe dit in die geloof te bowe gekom kan word. Daar moet gepraat word oor ʼn sosiale bewussyn en verantwoordelikheid. Die barmhartige samaritaan is daarvan ʼn sprankelende voorbeeld om nie eers te praat van die koms van die Seun van die mens na ʼn wêreld wat dit nooit kon verdien nie.

“Soos die Vader my gestuur het so stuur ek julle”.

Joh. 17 is profeties relevant vir ons tyd. Die uitdagings is legio. Die Gees is in staat en is ons gewillig om deur God gebruik te word.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.