ToekomsVenster: Nog twee weke

(Foto: Leon Biss/Unsplash.)

Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. – Romeine 13:12

Net toe ʼn mens dink dat die nag verby is en dit is amper dag kom ons staatspresident en verleng inperkingtyd met twee weke.

Wat is daar wat jy nog nie gedoen het nie? Ek vermoed die meeste van ons het redelik opgevang met wat agterstallig geraak het. Daar is baie mense wat van die huis af werk maar die ontspanne atmosfeer is gevul met genade.

Dalk kan ons mekaar help? Oorweeg die volgende vyf vrae en probeer ʼn prentjie vorm van wat in jou gemoed aan die gebeur is.

  • My gedagtes skoppelmaai/is rustig /is neutraal binne my.
  • My gedagtes kuier by gister/vandag/môre/oral.
  • My gedagtes is positief waarderend/negatief veroordelend/gemaklik neutraal.
  • My gedagtes is by my as individu/ander mense veral/sommer oral.
  • Ek is tuis/ontuis/verleë met my gedagtes.
  • Ek wens my gedagtes wil aanhou/ophou/neutraal dink.

Jy kan jou eie vrae byvoeg om jou gemoedstemming te bepaal.

Probeer ʼn prentjie vorm van wat aan die binnekant aan die gebeur is. Maak erns daarmee, moenie net ignoreer nie. Respekteer die boodskappe wat vanuit jou binnewêreld na jou toe kom.

Indien die opsomming van jou gedagte wêreld positief is dank die Here daarvoor. Dit is genade.

Indien dit neutraal is, is daar nie kommer nie.

Indien dit negatief, pessimisties, swartgallig en selfs verdoemend is werk versigtig, verantwoordelik en genuanseerd daarmee. Sonder om daarvan weg te hardloop oorweeg en weeg wat na jou toe kom. Laat ruimte toe vir persoonlike groei, veral wat emosionele volwassenheid betref. Herinner jou aan God se oorvloedige liefde en genade en dat Hy die werk in jou voortsit tot op die dag dat Jesus kom wanneer jy volmaak sal wees.

Gee jouself toestemming om foute te maak. Vra of jy iets daaruit geleer het. Moenie stompsinnig voortploeter met verkeerde gewoontes nie. Vertrou die Heilige Gees om jou die oorwinning te gee. Indien nodig, praat met iemand. Dis dom om dit nie te doen nie.

Galasiërs 5:25 – Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Romeine 12:2 – Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.