ToekomsVenster: Om klaar te maak

(Foto: Glen Jackson/Unsplash)

“Toe ek ʼn kind was, het ek gepraat soos ʼn kind, gedink soos ʼn kind, geredeneer soos ʼn kind. Maar noudat ek ʼn man is, is ek klaar met die dinge van ʼn kind.” – 1 Korintiërs 13:11 (AFR83)

Die einde van die jaar is op ons. Een van die heilsame dinge om nader aan jaareinde te doen, is om jou lewe in oënskou te neem. Een van die belangrike vrae wat ʼn mens moet vra en beantwoord, is of jy met die regte dinge besig was, is en gaan wees. Dit mag verrykende implikasies hê vir jou lewe of dit mag spanning en onsekerheid tot gevolg hê en dit insigself onderstreep die belangrikheid van die oefening.

Dit is juis die gewaarwording dat ek dalk net besig is met dinge wat die Here my nie gevra het om te doen nie, of waarvan die seisoen nou verby is, ten einde plek te maak vir die nuwe dinge wat Hy wil doen, wat my wil dwing om voorraadopname te doen.

Ek verwys uiteraard nie na praktyke wat die toets van die Woord nie kan deurstaan nie. Dit kan tog op geen manier gerasionaliseer word nie. As die Bybel sê nee, is dit nee. Sou ek met so iets voortgaan, is dit doodgewone ongehoorsaamheid.

Ek verwys eerder na goeie, mooi en verdienstelike projekte en aktiwiteite wat nou heroorweeg moet word.

Een stelreël is dat as ons te besig is om tyd met die Here deur te bring. Die dinge waarmee ons besig is mag edel en bewonderenswaardig wees. As dit egter op gereelde grondslag ons daarvan weerhou om met die Here besig te wees, moet ons dalk weer dink.

My gedagtes loop in twee rigtings.

My eie lewensfilosofie is om te doen wat my hand vind om te doen. Somtyds kan ons so besig wees met – ek soek na die wil van die Here vir my lewe – dat daar letterlik niks gebeur nie. Ek ry elke dag verby soveel nood, maar bid jaar in en jaar uit dat die Here sy wil sal openbaar. Ek beleef soveel hartseer en vrae by my werkplek en die mense wat daar funksioneer, maar sê en doen niks nie. Ek bid dat die Here my sal wys wat ek moet doen. Vir sommige duur hierdie oefening maande, selfs jare.

Die ander gedagte het egter te doen met my gawes, aanvoeling, persoonlikheidsamestelling, konteks en vermoëns. As my hele menswees in ʼn ander rigting neig, verwag God nie van my dat elke dag ʼn marteling moet wees nie.

Ek vermoed dat die saak op die tafel nugterheid en eerlikheid vra.

Dis amper die einde van die jaar.

Hoe dink jy oor die goed waarmee jy besig is?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.