ToekomsVenster: Om ’n leier te wees

Foto:
Miguel Á. Padriñán/Pexels.com

“Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” − 1 Korintiërs 11:1-16

Die meeste mense is seker terdeë bewus van die leierskapverkiesing van die ANC wat aan die einde van hierdie jaar plaasvind. Daar word baie daaroor berig en alhoewel pres. Ramaphosa waarskynlik die aangewese kandidaat is om die ANC vir die volgende paar jaar te lei, word ander name ook in die hoed gegooi.

Leierskap is ʼn baie belangrike aangeleentheid. Wanneer ʼn mens dink aan plaaslike leiers, is dit so dat jy meermale erg teleurgesteld is. Dit blyk dat baie van die sogenaamde leiers voete van klei het, en name van hoë amptenare kom ter sprake in onderduimsheid, wanadministrasie en -voorstelling, omkopery en rampokkery, om maar ʼn paar sake te noem.

Leierskap is invloed. Nie selfsugtig bedoel sodat jou eie ego verder kan vergroot nie, maar invloed wat ander daartoe sal bring om ʼn goeie voorbeeld, ja die voorbeeld wat jy stel, met entoesiasme te volg.

Wanneer ʼn mens vra wie leiers is, is mense skaam en skugter om hul hande op te steek. Ek is nie ʼn leier nie, maar ʼn volgeling. Dit is ʼn onnodige nederigheid. Leiers kan volg. ʼn Leier wat self nie kan volg nie, is geen leier nie.

Suid-Afrika het leiers nodig. Die juffrou in die klaskamer, die dokter by die spreekkamer, die motorwerktuigkundige op die vloer en die vullisverwyderaar in diens van die munisipaliteit.

Toegegee, die sfeer van invloed verskil. Soms begeer ons ʼn groter sfeer van invloed, maar moet in gedagte hou dat dit ook meer verantwoordelikheid en meer verantwoordbaarheid beteken.

Hoe groter die invloed, hoe groter die verantwoordelikheid en hoe meer die rekenskap wat jy moet gee.

Paulus is nie onnodig aanstellerig as hy die gemeente oproep om hom te volg nie. ʼn Mens se eerste reaksie is dat dit dalk effens aanmatigend kan wees, maar dit is dit nie – inteendeel, dit is die roeping van elke gelowige om met dieselfde vrymoedigheid as Paulus ander op te roep en aan te moedig om jou voorbeeld te volg.

Is dit op jou van toepassing?

Indien nie, wat moet aangespreek word sodat jy geloofwaardig kan wees in die invloed wat jy uitoefen?

Neem die mantel van leierskap nou op.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.