ToekomsVenster: Ompaaie

sonsopkoms-pad-toekoms-stiltetyd.jpg

(Foto: Pixabay)

“Daar is ʼn weg wat vir ʼn mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” – Spreuke 14:12 (AFR53)

Ons gesels hierdie week oor paaie, die paaie van die hart, geestelike paaie en God se paaie.

Ons het Maandag verwys na die toestand waarin Suid-Afrikaanse paaie verkeer. Ek dink nie dat daar ʼn persoon is wat nie al skade gely het in hierdie verband nie.

Ai, dit maak baie seer wanneer ʼn mens deur so ʼn slaggat ry en hoor hoe jou motor skade opdoen. Bande word stukkend gesny en bakwerk beskadig. Dit is een van die hartseer realiteite waarmee ons geleer het om saam te leef in sonnige Suid-Afrika.

Paaie in oordragtelike sin het sommer baie te sê oor die geloofslewe. Gister het ons oor hartspaaie gepraat. Die paaie na ander se harte, na ons eie harte, wat iewers skade opgedoen het. Ek vertrou dat jy werk gaan maak van daardie pad ten einde herstel teweeg te bring.

Somtyds gebeur dit dat ʼn pad so erg beskadig is dat ʼn mens ʼn ompad moet gebruik. Die ompad is meermale ongeteer, stowwerig en self nie in ʼn wafferse toestand nie. Gelukkig is ompaaie nie te lank nie en vind ʼn mens weer iewers vorentoe aansluiting by die hoofpad.

Ompaaie in die geestelike lewe wil ons inderdaad weer op die hoofpad bring.

Ompad is ʼn onderskeidingspad, dit vra dat jy goed sal nadink oor die beste manier om ʼn saak te hanteer. Sommer met die deur in die huis val en ʼn ding sê soos dit is of soos jy dink dit is, is nie altyd die beste strategie nie. Oorweeg en doen dit weer ʼn keer.

Sê dit vir jouself hardop sodat jy kan hoor hoe dit klink.

Toets jou benadering met iemand na aan jou wie jy kan vertrou en wat vir jou die waarheid sal vertel.

Vra die Here vir wysheid sodat jy die beste manier sal vind.

Iewers vorentoe wil jy weer by die grootpad aansluit. Iewers vorentoe vertrou jy sal die verbinding weer herstel word. Soos dinge nou daaruitsien is dit net te stukkend. Jy sal in jou benadering moet verander, ʼn ander gesindheid moet openbaar, sagkuns en met empatie en wysheid optree.

Jy het ʼn ompad nodig ten einde weer iewers vorentoe by die hoofpad aan te sluit.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here op my lewenspad hou U my hand…as daar slaggate is neem U my op die ompad…dankie dat ek U daarvoor kan vertrou…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.