ToekomsVenster: Ons God is geduldig

bankie

Foto: Aaron Burden/Unsplash.com

U was geduldig met hulle, baie jare lank, U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete, maar hulle het nie geluister nie. Toe het U hulle oorgegee in die mag van heidenvolke – Nehemia 9:30

Nehemia roep die bedenklike en hartseer geskiedenis van Israel voor oë. Hy herinner hom daaraan dat Israel op sy beste onbetroubaar en afvallig was. Keer op keer het die Here gewaarsku totdat die Godsvolk weggevoer is na die vreemde.

Later verneem Nehemia wat self in ballingskap verkeer en as wynskinker vir die koning optree dat die volk van die Here in ellende verkeer in Jerusalem. Daarmee word verwys na die wat agtergebly het nadat die room en keur van die volk na Babel weggevoer is. Hy vra toestemming om die mure in Jerusalem te gaan herbou.

Die volk kon die Here nie verwyt dat Hy onvriendelik opgetree het teenoor hulle nie. Sy geduld het bykans geen perke geken nie.

Ons definisie van geduld is steeds te kort. God het oor eeue met sy volk gepraat deur priesters en profete. Trouens elke offerhandeling het hulle teruggeroep na die gebaande weë. Dit is ook nie asof hulle nie van sy goedheid en guns bewus was nie en dat doodgewone dankbaarheid hulle tot ʼn geheiligde lewe aangespoor het nie.

Die geskiedenis is bekend. Hulle beproef God totdat sy genade inderdaad oënskynlik opraak.

Ook in die vreemde bemoei die geduldige en liefdevolle God Hom met ʼn afvallige volk en verseker hulle dat Hy ʼn nuwe begin sal maak.

God het jou oneindig lief en is geduldig tot die uiterste. Ek ken jou nie, Hy weet alles. Is jy dalk op ʼn plek waar jy die geduld van God beproef en kyk hoe ver jy sy geduld kan strek?

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. – 1 Korintiërs 13:4

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bertie ·

Here God, baie dankie vir U oneindige geduld met ons; ook vir U genade!! want U IS ons geweldig genadig terwyl ons dit geensins verdien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.