ToekomsVenster: Op sy Woord kan ek vertrou

(Foto: Fa Barboza/Unsplash)

Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.” – Lukas 1:35

Ons het hierdie week oopkop en eerlik gesels oor ons twyfelvrae en sover vier belangrike merkers aangedui.

In die eerste plek is die Bybel nie stil oor die onderwerp nie. Van die prominente Bybelfigure het ernstig getwyfel aan hul geloof. Daarmee saam moet ons nie toelaat dat omstandighede ons oorrompel nie, maar vashou aan die getuienis van God se betrokkenheid by ons lewens. Ons kan en moet ons geloofstwyfel soos Johannes die Doper na Jesus toe neem.

Vandag se belangrike merker: moenie jouself verwens en veroordeel omdat jy soms met twyfel worstel nie.

Twyfel is nie ʼn doodloopstraat nie, maar eerder die begin van ʼn nuwe reis saam met God. Geloof is ook nie die afwesigheid van twyfel nie, inteendeel. Geloof is eerder die wyse waarop ons twyfel in die bed sit.

Maria hoor by die engel dat sy eersdaags ʼn moeder gaan wees, die moeder van Jesus, die Seun van God. Sy is oorweldig deur die aankondiging en onkant gevang deur die verskyning van die engel aan haar. Let op haar reaksie op die aankondiging – sy draai nie in die rondte van opgewondenheid dat die eer haar aangedoen word nie. Sy breek aanvanklik nie uit in ʼn loflied nie, weliswaar later.

Sy vra ʼn belangrike vraag: hoe kan dit, sy is nog ʼn maagd en boonop aan Josef verloof.

Haar eerste reaksie is een van twyfel, dit kan tog nie, almal weet hoe bevrugting plaasvind, die voorwaardes vir swangerskap is hier duidelik nie teenwoordig nie, die engel moet ʼn fout maak.

Dan die verrassende en gerusstellende aankondiging, “die Heilige Gees sal oor jou kom en die kind Jesus in jou verwek”. (Luk.1:35)

Misterieus, onverstaanbaar, heeltemal teen die reëls in, maar, as God so gesê het, dan is dit so

Hy kan want Hy is God die almagtige.

Opregte twyfel is nie ʼn uitdrukking van ongeloof nie maar veel eerder ʼn uitdrukking daarvan. Dit is ʼn soekende hart wat na God vra.

Hy laat hom vind deur eerlike en soekende mense.

Hier is die ou Halleluja-liedjie 209 se woorde:

Al my twyfel bring ek Jesus

Hy sal sy belofte hou.

Nimmer sal Hy my beskaam nie

Op sy Woord kan ek vertrou.

Slegs vertroue, vol vertroue, slegs vertroue op sy Woord.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.