ToekomsVenster: Ouers se verantwoordelikhede

(Foto: Drew Hays/Unsplash)

As die Here aan julle die voorreg gee om kinders te hê, maak hulle groot met die dubbele versekering: Ons is gebore uit die liefdesverbond tussen ons ouers en ons leef as huisgesin uit die genadeverbond wat die hemelse Vader met sy kinders in stand hou.Huweliksformulier

Van kleintyd af moes ons allerlei takies in en rondom die huis behartig. Kosmaak, wasgoed was en stryk, huis aan die kant maak en vloere was; niks was uitgesluit nie. Uiteraard het dit met kreun en steun gepaard gegaan. Wie wil nou rondom die huis besig wees as jy eerder met maats kan speel.

Dit was egter die reëls en ons het daarby aangepas.

Later het dié vaardighede my goed te pas gekom. In die weermag kon ek ander se klere stryk en ʼn sakgeldjie verdien.

Ek is laat getroud en moes lank vir myself sorg.

Dit is baie jare later en ek doen steeds so. Suzette en ek is voldag besig. Ons huishulp kom een keer per week. Die res doen ons self.

Ons leef lankal in ʼn tyd waar daar nie meer tipiese werke is vir mans en vroue nie. Dit is argaïese denke wat nêrens meer geld nie.

Maandae was ons wasgoed. Van die kleinkinders se klere het agtergebly en in die mandjie beland.

Oupa vertroetel dit en verlang onmiddellik. Klein Nihan se T-hempie word langs oupa se grootmens-hemp opgehang – te kostelik en spesiaal.

Dan groei die gewaarwording by my dat ek ʼn grootmens is en hy ʼn kind. Om die waarheid te sê, het hy maar pas vyf jaar oud geword. Jy kan nie van kinders verwag om te doen wat grootmense veronderstel is om te doen nie. Kinders sorg nie vir ouers nie, ouers aanvaar, ja ook verbondsmatig, volle verantwoordelikheid vir hul kinders.

Kinders het nie gevra om gebore te word nie. Ouers het besluit om kinders te hê.

Ek raak onnosel van woede wanneer ouers hul kinders aan spanning onderwerp omdat hulle nie met mekaar kan klaarkom nie. So moes ek myself onlangs sterk uitspreek teen ouers wat versukkeld is met mekaar en die onsekerheid aan hul kinders oordra. Die onmoontlike word van kinders gevra: kies een van ons twee. Agteraf word die ander party sleg gesê en verkleineer. Kinders gaan skool toe en wonder of Ma en Pa nog bymekaar sal wees as hulle huis toe kom.

Ons is die ouers, die verantwoordelikes, ons het belowe. Ek weet die lewe is gekompliseerd. Ek weet en ervaar self dat die lewe somtyds brutale eise aan ʼn mens stel. Die spanning van die huidige tydsgewrig word dikwels huis toe gedra en die frustrasie en magteloosheid teenoor die ander party uitgewoed.

Ons mag mekaar egter nie tot vyande verklaar nie.

Ons is ʼn span, man en vrou, pa en ma, en ons het kinders. Hulle het volwasse versorgers nodig, nie nog maatjies wat konsekwent moeg is vir die lewe nie.

Daar is hulp beskikbaar. Maak daarvan gebruik, moenie dat julle kinders daaronder ly nie.

Ja, ek is kwaai en vra nie verskoning daarvoor nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.