ToekomsVenster: Plastiekblomme

(Foto: Rea Tekoro/Unsplash)

“Liewer arm wees en eerbaar lewe as oneerlik lewe en ryk wees.” – Spreuke 28:6 (AFR83)

My ma het baie siek geword en is in die hospitaal opgeneem. Ek praat uiteraard van baie jare gelede. Met die eerste besoek aan haar, het ek by die ingangsportaal die mooiste rangskikking rose gesien.

Rose is my gunsteling-blom en ek waardeer die kleure en geure waarin dit na ons toe kom. Ek verbeel my dat rose na koffie ruik en koffie is een van my gunsteling-drankies.

Goeie geperkoleerde koffie, nie kitskoffie nie, maar goeie ordentlike koffie.

Terug by die rose in die hospitaal.

Sonder om daaroor na te dink, doen ek wat ʼn mens met ʼn mooi ruiker doen. Jy stap nader en ruik daaraan. Groot was my ontnugtering toe ek agterkom dat die blomme namaaksels is en, indien na enigiets, dan na stof ruik.

Ek het begrip daarvoor dat blomme duur geword het en om dit gereeld te vervang baie geld, wat beter aangewend kon word, kos. Ek verstaan dat nagemaakte blomme (en jy moet mooi kyk om te onderskei) ʼn koste-effektiewe alternatief is.

Nagemaak, leweloos, reukloos en teleurstellend.

Die lewe en die uitdagings daaraan verbonde dreig om ʼn mens van alle uniekheid, oorspronklikheid en geur te beroof. Alles en almal word in een pot saamgedring en andersdenkendes word buite gelaat.

Dit is teleurstellend wanneer ʼn mens met hartseer moet hoor dat iemand wat jy vertrou, voete van klei het. Wat by die kantoor gebeur en by die huis is twee stories.

In sy sosiale kring is hy toeganklik, vriendelik, bedagsaam en ontvanklik. By die huis is hy bombasties, ongeduldig, onverdraagsaam en veeleisend. In sy sosiale kring besing almal sy deugde, maar weet nie dat dit vals en kosmeties is nie.

Hierdie plastiese blomme kry ʼn mens oral. Ook in die kerk. Daar samel die individu kollekte in, groet by die deure en kuier vriendelik saam na die tyd. By die huis word die kinders afgejak, jou vrou ontbeer dit en die hond moet uit jou pad bly.

Jy is soos blomme op die ontvangstoonbank by die hospitaal.

Jy is alles behalwe die regte ding.

Dalk ek ook. Plastiekblomme wat na niks ruik nie en leweloos is.

Kom ons kom terug by Hom, die Koning van die kerk.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.