ToekomsVenster: Projek Lewe

(Foto: Faris Mohammed/Unsplash.)

“Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak. Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe! – Deuteronomium 30:19 (NLV)

Alles word mos deesdae met ʼn hutsmerk gedeel. Noem ʼn saak en dit het ʼn hutsmerk. Ek vind die interessante en verhelderende verklaring vir wat presies ʼn hutsmerk is en hoe om dit gebruik op die internet: “Die gebruik van hutstekens is in wese ʼn manier om gesprekke of inhoud rondom ʼn sekere onderwerp saam te groepeer, wat dit maklik maak vir mense om inhoud te vind wat hulle interesseer.”

Christene is die mense wat besig is met #ProjekLewe.

Die Bybel sê nêrens dat ons moet verlang na die hemel nie. Dit gebeur en sal gebeur wanneer ons met Projek Lewe op aarde klaar gehandel het. Wanneer ons daarmee klaar is, is ook nie vir ons om te besluit nie. Die datums is in die hemel opgeskrywe.

Hoofsaak is dat wanneer ek soggens wakker word, ek vir myself sal sê: “Wel, oënskynlik is ek nog nie klaar nie. Projek Lewe, hier kom ek”.

Niemand het gesê dit gaan ʼn gelyk of maklike pad wees nie. Die predikers wat ʼn teologie van onvoorwaardelike oorvloed en voorspoed predik, het dit mis. Lees die Nuwe Testament. Kyk wat met mense soos Paulus gebeur het. Dit was nie maklik nie en dit het nog nooit verander nie.

Ons word geroep om met Jesus, wat buitekant die laer gekruisig is, te identifiseer. Lees gerus Hebreërs 13:13. Ons is navolgers van die kruis, ons verkondig ʼn Kruis-evangelie.

Dit beteken nie dat jy die moeilikheid gaan opsoek nie. Dit sal jou kry, gaan jy net aan met die groot projek waarvoor ons geroep is, naamlik Projek Lewe.

Ons roeping is om ʼn geur van die lewe tot die lewe te wees, te midde van die doodsreuke wat swaar in die lug hang, veral in die tyd en konteks waarin ons leef. (2 Korintiërs 2:15-16)

Dit is aan die einde van die dag die oorwinnings, klein en groot, wat betekenis gee aan die lewe.

ʼn Gelykpad raak vervelig. Niemand wil aanhoudend daar ry nie. ʼn Heuweltjie hier en daar, ʼn rots langs die pad, selfs slaggate, gee ons iets om oor te praat, te dink en te getuig.

Hier kom ons #ProjekLewe. Viva!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.