ToekomsVenster: Roepstem van die Here

gelukkig_uitgestrekte-arms_sonsopkoms_vreugde_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

“Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” – Filippense 3:13 (AFR83)

Ek onthou uit my studentedae die frases “alreeds” en “nog nie”. Dit is interessante frases wat ons help om God se pad met ons en ons pad met Hom beter te verstaan.

Bekering is die eerste tree op die nuwe pad wat die Heilige Gees aanwys. Sommige reken dat bekering die eindpunt is. Dit is eerder die wegspringblokke nou dat die bekeerling homself aan ʼn nuwe manier van dinge doen gaan oriënteer.

Die Here het ʼn merkwaardige werk in ons lewens kom doen. Iewers langs die pad word ons bewus van die Here se roepstem. Soos die ou Halleluja dit so mooi verwoord, “almal wat moeg is, kom tuis”.

Sy stem is inderdaad uitnodigend en vriendelik.

Hy kan ons aanspreek soos ons verdien, ons is immers onverdienstelike sondaars.

Sy stem is inderdaad “saggies en teer”, alhoewel ons eie onverskilligheid en opstandigheid ons somtyds in moeilike en selfs ondraaglike omstandighede laat kom. Omstandighede waar ons geen ander uitweg sien as om desperaat na God te roep nie.

Die vraag is of God ons in daardie situasie ingedwing het en of ons self daarvoor moet pa staan?

Ek is so dankbaar vir die genade wat die Here aan mense betoon.

Hy begin ʼn werk in ons lewens onder beheer van die Heilige Gees, ʼn werk wat oor die spektrum van ons lewens uitspeel.

In dié sin is dit alreeds, maar nog nie.

Ook die hele wêreldgeskiedenis en die koms van die Koninkryk van God, speel teen daardie agtergrond af. In Christus het God ʼn nuwe begin met hierdie wêreld gemaak en dit sal voortduur tot op die dag wanneer Christus op die wolke sal verskyn.

God se werk in ons lewens betrek ons in elke opsig.

Dit is God en ons, ons en God deur die Heilige Gees.

Derhalwe Paulus se erkenning dat die werk in sy lewe nie afgehandel is nie. Immers, iewers bekla hy die lot van alle mense, ook sy eie. Wat ons wil, naamlik om God te verheerlik, kom nie maklik nie. Wat ons nie wil nie, omdat dit God nie verheerlik nie, kom somtyds so outomaties.

Dit neem ʼn leeftyd vir die karakter van God om in ons gestalte te kry.

Paulus getuig egter dat hy aan hierdie proses oorgegee is, meer as dit, dat sy lewensleuse, sy ingesteldheid, sy voorneme en oortuiging is. Sy verhouding met God en die merktekens van die Koninkryk van God moet toenemend in sy lewe deurbreek.

Die woorde “ek maak my los en ek strek my uit” is rigtinggewend.

In terme van “los maak” wat mag dit verteenwoordig in my en jou lewe?

In terme van “strek na wat voor is”, die karakter van Jesus wat in ons lewens gestalte moet kry, is dit ons van harte ingesteldheid?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.