ToekomsVenster: Selfs die duisternis is nie donker

sonsopkoms_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Ek hou nie van die winter nie. Die nagte is koud en veels te lank. Die son is skaam en maak vir my heeltemal te laat sy verskyning. Ek verkies die somer. As jou oë oopgaan nooi die nuwe dag jou binne. Die lewe borrel in jou en is vol belofte.

Die donker het egter ook ʼn plek. Dit is in die donker tye van die lewe dat ons die Here leer ken. Ja, beter leer ken. Ons raak so gou selftevrede en gerus. Ons vergeet so gou dat ons afhanklik is van God en sonder Hom tot niks in staat is nie. Ons probeer eers self en as ons nie regkom nie, kom ons skaam en sleepvoetend na Hom toe.

Die Bybel leer ons:

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” – Johannes 15:5 (AFR83)

Jesus stel vir ons daarin ʼn voorbeeld.

“Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: ‘Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so’.” – Johannes 5:19 (AFR83)

Liedboek 505 beskryf dit so mooi:

Jesus, U gaan voor –

ons volg in u spoor.

U ken alle lewenspaaie,

al die hoogtes, dieptes, draaie.

Kom en vat ons hand

na die Vaderland.

 ʼn Frase uit Mary Oliver se gedig: “The uses of sorrow” klink so:

Someone I loved once gave me a box full of darkness.

It took me years to understand that this too, was a gift.”

Om so oor donker, jou persoonlike donker te praat, getuig van geestelike volwassenheid. Dit kom met jare se inoefening en geloofsvertroue.

Dalk is jy in so ʼn donker tyd in jou lewe. Dalk moet jy nie vra waarom nie, maar waartoe. Wat is dit wat die Here deur sy Gees in my lewe tot stand wil bring?

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” − Romeine 8:28 (AFR83)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.