ToekomsVenster: Soek na die ewige, volmaakte realiteit

lig-sonskyn-herfs-blare

Argieffoto (Foto: Kaique Rocha/Pexels)

“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” − Matteus 7:7

Trauma, ek wens dit vir niemand toe nie, en tog is niemand daarvan gevrywaar nie.

Daar is sprake van twee realiteite, as ek die woord mag gebruik. Die een word met ʼn klein lettertjie “r” gespel en die ander met ʼn hoofletter “R”.

Die een verwys na die tydelike en die ander na die Ewige.

Die een verwys na die stukkende en die ander na die Volmaakte.

Trauma mag op hierdie tydstip jou realiteit wees. Om dit te ontken, is nie baie slim nie. Iewers gaan dit jou inhaal, doodgewoon omdat ʼn mens nie gemaak is om dinge onverwerk te laat nie. Iets hier binne smag na afsluiting. Al kan die situasie nie omgekeer word nie kan ʼn mens darem betekenis probeer vind, genoeg motivering om weer vir die lewe te kies.

Ten einde daardie plek te bereik moet jy die groter realiteit, die een met die hoofletter “R”, in jou omstandighede toelaat. Dit maak nie saak hoe Hy jou gespreksgenoot word nie, maar moet Hom nie ignoreer nie.

Jy mag kwaad wees en baie vrae hê. Jy mag selfs voel dat Hy aandadig is en jou in die steek gelaat het. Sê dit dan vir Hom. Hy verkies ʼn eerlike- bo ʼn voorgee-verhouding. Hy sien in elk geval tot in elke mense se diepste wese.

Hoofsaak is dat jy met God sal praat en bly praat.

Golgota en die oop graf het ʼn pad na jou gekloof.

Omstandighede wil ons somtyds oortuig dat dit alles net ʼn droom is, dat Hy nie bestaan nie of op ʼn afstand toekyk sonder om iets aan die wêreld te doen.

Toegegee, maklike antwoorde is daar nie en somtyds vat dit ʼn geruime tyd om by een of ander antwoord uit te kom waarmee jy voel jy kan werk.

Bly praat, soek, vra, klop, roep, bid. Hy sal jou nie teleurstel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.