ToekomsVenster: Tekens van hoop

(Foto: Angie/Unsplash)

“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!” – Psalms 42:6

Suid-Afrika kan ʼn mens uitermate moedeloos maak oor die goed wat verkeerd is. Dat daar baie skort met ons liewe land, is nie altemit nie. Dis bitter onveilig en wanneer ʼn mens hoor van die Duitse toeris wat digby Numbi-hek by die Nasionale Kruger Wildtuin vermoor is, wil jy jou kop in skaamte laat sak.

ʼn Mens hoor stories wat jou hare laat rys en wonder hoe ons hier gekom het. Die lewe het weglaatbaar goedkoop geword. Dit is om van te huil.

Dan weer lees jy merkwaardige stories van welwillendheid, omgee, vriendelikheid en medemenslikheid. Daar verskyn gereeld berigte in die media van mense wat in oomblikke van nood onverwags verras word deur ʼn medemens wat nie te besig is om te help nie.

Elkeen van ons het ʼn keuse; jy kan deel van die antwoord of deel van die probleem wees.

Die maklikste is om deel van die probleem te wees. Dit verg geen inspanning, oorspronklikheid, kreatiwiteit of fokus nie. Die verkeerde is ontstellend naby aan en in ons. Dit kom vanself. Dink maar aan 1 Korintiërs 13 waar Paulus die liefde besing. Hy kontrasteer liefde met dit wat nie liefde is nie. Onvriendelikheid, onverdraagsaamheid, onvergewensgesindheid, vooroordeel en slegsê gebeur alledaags. Dit verteenwoordig die breë pad.

Die smal pad loop moeilik, daar is vele dinge wat ontmoedig en jy loop die gevaar om sleggesê te word.

Mense mag jou motiewe bevraagteken en agteraf van jou praat. Die vraag is of jy gefokus sal bly, onbeskaamd sal deel wees van die antwoord, genesing, oplossing en heel word van ons baie stukkende land.

Die keuse is joune.

Hoe dink jy daaroor?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.