ToekomsVenster: Toeval en die noodlot

ligtoring_Stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: PIRO4D/Pixabay)

“Ek het tot die Here gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie.” – Psalms 16:2 (AFR53)

Watter rol speel toeval en die noodlot in ons lewens, en mag dit hoegenaamd ʼn rol speel?

Voorbeelde is legio.

Toevallig: Sy het toevallig daar opgedaag en aandag gegee aan die kind se behoefte.

Noodlot: Soos die noodlot dit wou hê, wou my motor die oggend nie aan die gang kom nie.

By beide hierdie konsepte is daar van ʼn derde party sprake. Christene sou sonder om te skroom getuig dat God ʼn belangrike en onontbeerlike reisgenoot in hul lewens is. Uiteraard is elke persoon self ook betrokke by die reis. Intensioneel of by wyse van gewoonte word ʼn derde party of invloed by my lewe en optrede betrek. Sy naam is toeval of noodlot.

Die Bybel leer dat God my bewaar.

“Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.” – Psalms 121:8 (AFR53)

In die meer modern idioom, word dit as volg vertaal:

“Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

Die Evangelies leer ons dat selfs die hare op ons koppe getel is. Bedink vir ʼn oomblik die implikasie van hierdie stelling.

Op ʼn ander plek word gesê:

“In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” – Jakobus 4:15 (AFR53)

Ek probeer nie hare kloof nie en ook nie aanstoot gee nie. Dit is egter belangrik hoe ons as Christene praat. God is die Agent van ons lewens. Hy is ons Lewensbestuurder. Deur die Heilige Gees is Hy elke oomblik van die dag by en met ons om ons in waarheid te lei.

Miskien wil ons die gebruik van hierdie woorde heroorweeg. Toeval en noodlot het nie plek in die lewe van ʼn gelowige nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.