ToekomsVenster: Tyd vir lewe

(Foto: Ornella Binni/Unsplash)

Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het. – Gen. 2:7

Die tweede skeppingsverhaal in die Bybel in Genesis 2 spreek my besonderlik aan toe ek nou die dag daarna luister. “God blaas die lewensasem in die mens en hy begin te lewe. Hy word ʼn lewende wese”.

Die Boodskap vertaling beskryf vers 7 so:

Toe het die Here God van die aarde se bogrond gevat en ’n mens daarvan gemaak. Hy het ook sy asem in die mens se neusgate geblaas en die mens het begin leef.

Die Nuwe lewende vertaling van vers 7 lees so:

Toe vorm die Here God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword.

Die mens het lewendig geword. God blaas en siedaar, die mens lewe.

Wat is lewe?

Ek is seker baie van julle het al, veral wanneer dit storm weer in jou lewe is, by jouself gemompel, “dit is darem nie die lewe nie. As dit die lewe is, is dit nie die moeite werd nie. Daar moet meer wees aan die lewe as wat ek tans ervaar. Aanvegtinge, sukkel en straf. Nee wat, dit nie soos ek die lewe my voorgestel het nie”.

Toegegee, die lewe is nie ʼn rit op ʼn plesierboot na ʼn idilliese eiland weg van al jou probleme en uitdagings nie. Daarvoor is die Bybel net te eerlik en uitgesproke. Daar is ʼn prys aan dissipelskap verbonde en somtyds is dit erg moeilik.

Tog, te midde van en ten spyte van, is daar steeds sprake van lewe. Dit is kosbaar, uniek, merkwaardig, verrassend, en ja selfs, opwindend.

Jy vra waar sien ek dit? In die natuur, in my medemens, in my lewensmaat, in my kinders en kleinkinders, in my vriende en kollegas, in die nuus, in die stories van mense en hulle dinge.

Weier eenvoudig net om toe te gee aan gevoelens van mismoedigheid. Soek en jy sal die dinge vind wat die lewe die moeite werd maak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here U my Skepper en God ken my beter as wat ek myself ken…dankie dat U my nooit verlaat nie…maak dit stil in my kop en in my gemoed…in Jesus naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.