ToekomsVenster: ‘U is my lewe’

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

“Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.” – Psalms 16:5

Ons kuier met mekaar saam uit Psalm 16 en vandag wil ek jou aandag vestig op vers 5 wat lees, “Here, U is my lewe”.

Dit sluit eintlik pragtig aan by gister se gedagtes waar die digter vir die Here sê: “Daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U”. Die gedagte wat hier weer onderstreep word, is dat ons ʼn keuse, ʼn gehalte-keuse, ʼn keuse wat God se liefde vir en teenoor ons as’t ware komplementeer, sal maak.

Ons kan net in ʼn verhouding met God staan omdat Hy ons getrek het, omdat Hy in ons harte gewerk het, ons voorberei het op die influistering van sy Gees wat vir ons sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en ek sal julle rus gee”. Die Een wat gesê het: “Al was jou sonde soos skarlaken, dit sal word soos sneeu, al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol”.

Was dit nie en is dit nie vir God se genadewerking in ons harte deur sy Gees nie, kan geen mens met Hom in ʼn verhouding staan nie. Die Bybel sê immers, niemand vra na God nie, nie eers een nie.

Ons is heeltemal tevrede op ons eie trajek, al is dit op pad na die verderf. Ons is blind en doof vir die stem van die Here, totdat die Heilige Gees ons ore, ons oë en ons harte oopmaak.

Alles, alles is dus genade; onverdiende guns alleen. Ons het geen rede om te roem nie behalwe in sy oorvloedige genade, liefde en trou, sy onverstaanbare toegeneentheid teenoor mense wat dit in ewigheid nooit kan verdien nie.

Dan, wanneer die Here jou gegryp het, jou nader getrek het, jou oortuig het van sy liefde en jy in geloof daarop kon antwoord, vind jy die genade om vir Hom te kan sê: “Here U is my lewe”.

Die uitspraak, “Here, U is my lewe”, is ook aanduidend van ʼn voorneme wat daar in my hart leef.

Ek wil al hoe meer, toenemend, die ruimte in my hart verbreed onder leiding van die Heilige Gees sodat Hy, God, volle besit van my lewe sal neem.

Ons noem dit heiligmaking.

Om te kan sê, “U is my lewe”, is ook ʼn fenomenale stuk sekuriteit in ʼn stukkende, deurmekaar, sondebelaaide, onverskillige en Goddelose wêreld.

Ek kan soggens opstaan en saans gaan slaap met hierdie belydenis: “Here, U is my lewe”, en veilig en geborge voel.

Mag dit ook vandag van jou waar wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Here, U is my lewe…. U ken my deur en deur…by U is ek geborge….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.