ToekomsVenster: Vasgemaak aan die Lam

(Foto: Rod Long/Unsplash)

“… aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.” – Efesiërs 3:21 (AFR83)

Ons gesels ietwat oor die merkwaardige samelewingsverband waaraan ons die voorreg het om te behoort, naamlik die kerk van die Here Jesus Christus.

Kerklike lidmaatskap is nie kaartjie- of vorm-gedrewe nie. Ek sluit nie by die kerk aan soos ʼn mens by ʼn sokkerklub aansluit nie. Jy voltooi nie vorms en word dan lid verklaar nie. Geen vorm kan jou deel maak van die kerk nie. God maak jou deel van Sy kerk deur die misterieuse werking van die Heilige Gees.

Ons onderskei verskeie stappe in die geloofsproses. Die stappe is net ter wille van ʼn beter verstaan.

Dit het nie ʼn tydskedule wat daarmee saamloop nie. Dit gebeur op God se tyd, gedrewe deur die Heilige Gees.

So praat ons van:

  • Roeping (inwendig en uitwendig) –  God roep na ons deur sy Woord en Gees. Die roepstem ervaar ons aan die binnekant, maar sien dit ook in die mooi skepping. Hoe dikwels hoor ʼn mens nie iemand wat byvoorbeeld die pragtige God’s Window besoek en sê: “Daar moet ʼn God wees” nie.
  • Wedergeboorte – God verander ons harte sodat ons op sy roepstem kan antwoord.
  • Bekering – Ons hoor die stem van die Here en antwoord daarop.
  • Geloof – God skenk aan ons die geloof om hierdie pad saam met Hom te stap. Geloof is ʼn gawe van God.
  • Regverdigmaking – God verklaar ons regverdig, dit beteken ons sondeskuld is vereffen.
  • Heiligmaking – Ons integreer God in ons daaglikse lewe. Ons leef vanuit die verhouding wat ons met Hom en Hy met ons het.
  • Volharding –  Ons loop doelgerig en volhardend op hierdie nuwe pad. Die Here bemagtig ons deur sy Gees.
  • Verheerliking – Uiteindelik sluit ons aan by die skare mense wat reeds die wedloop voltooi het en sien God in al sy koninklike majesteit.

My bedoeling is nie om jou te vermoei nie, maar let saam met my op dat God die groot handelende Party is.

Dis eers Hy en dan ek.

My respons is altyd ʼn antwoord.

Hy steek sy hand na my toe uit en ek gryp dit vas.

Het jy dit al gedoen?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WILLEM ·

Jesus is die Koning van die skepping en hy moet gevolg word.

Yvonne ·

Amen…dankie Here vir die uitgestrekte Hand van genade..ek eer U Heilige God

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.