ToekomsVenster: Versorg die tempel

liggaam-is-n-tempel

Foto: Chris Jarvis/Unsplash.com

Paulus leer ons dat ons liggame die tempel van die Heilige Gees is. Ons, sê die Bybel, is liggaam siel en gees. Kortom verwys dit na die fisiese, emosionele en geestelike komponente van ons bestaan. Ons is egter ʼn eenheid en die drie elemente is onskeibaar.

Dis merkwaardig dat God nie net in ʼn faset van ons bestaan belangstel nie. Ons is inderdaad liggaam, siel en gees, beelddraers van Homself. Om die drie fasette van ons menswees gesond en funksioneel te hou is uiters belangrik.

Vandag wil ek bietjie gedagtes wissel oor ons liggame. God woon immers daar, sê die Bybel.

Die buitekant verklap wat aan die binnekant aan die gebeur is. Iemand wat die Here ken en deur sy Gees beheers word kan nie verslons en onversorg deur die lewe gaan nie. Die minste wat ons kan en behoort te doen is om ons liggame met respek, deernis en liefde te hanteer. Liefde vir die self is immers voorwaarde vir liefde vir ander, die Bybel sê, jou naaste soos jouself.

Ons omstandighede verskil, almal het nie toegang tot dieselfde bronne nie en om gesond te eet grens aan die luukse as jy worstel om van dag tot dag te oorleef. As bevoorregte is dit nie moeilik om ʼn keuse te maak vir ʼn gesonde leefstyl nie. Daar is mense wat vandag nie kan besluit tussen gesond en ongesond eet nie. Wat in die huis is word met dankbaarheid gebruik.

Tog glo ek dat die meeste van ons basiese keuses kan maak. Gesond eet, genoeg oefening, ontspanning en balans is dinge waarvoor begroot kan word.

As jy vandag kan loop het jy geen verskoning om nie ten minste ʼn poging aan te wend om eerder die trappe te klim of om die straatblok te loop nie. Jy kan kies wat jy vandag in jou mond sit. Nee sê vir nog ʼn sjokolade of stukkie koek is ʼn keuse wat jy kan uitoefen. Matigheid voor oë is ʼn keuse wat net jy kan maak. Alles wat te is, is te veel, behalwe tevrede.

Dis winter en ʼn mens is geneig om troos te soek. Jy wil hiberneer soos die bere en sukkel om energiek en lewenslustig op te tree.

Moenie aan die versoeking toegee nie. Kondig ʼn vroeë lente aan. Haal diep asem, suurstof is gratis. Wanneer laas het jou longe gesonde lug ingeneem? Versorg jou tempel. God verwag dit van jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annamarie Olivier ·

Vir die Here is daar net een ding van belang en dit is dat ons Jesus as ons saligmaker en verlosser moet aanneem, my liggaam is menslik en wat jy voorstel is uit mens se oogpunt. My saligheid kom van die Drie enige God Vader Seun en Heilige Gees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.