ToekomsVenster: Vertrou weer en weer op Hom

Foto: Aaron Burden/Unsplash

“Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.” – Psalm 56:4 (AFR83)

ʼn Mens is nie bang wanneer jy slaap nie; ek bedoel, diep en gemaklik slaap nie. Toegegee, somtyds kan ʼn onaangename droom jou nag bederf maar die nag is ʼn groot genadegawe. Nagte is daar om tot verhaal te kom, om te herstel wat die dag uit jou gehaal het.

ʼn Goeie nagrus is baie nodig. Om jouself vanweë watter rede rus te ontsê, is onverantwoordelik.

As ons dan ʼn tempel van die Heilige Gees is, binne en buite, in ons totaliteit, moet ons verantwoordelikheid neem vir wat God aan ons toevertrou het.

Ons almal staan by wyse van spreke in die bediening. Wat ons doen, doen ons vir die Here en op so ʼn wyse dat die Koninkryk van God ʼn groter werklikheid word op aarde. Ons is sout en lig om Bybelse metafore te gebruik.

Somtyds gebruik mense die bediening as ʼn rede waarom hulle nie genoeg rus nie.

Die verskoning maak nie indruk by God nie.

Ses dae arbeid, een dag rus. By wyse van spreke, 12 tot 14 uur arbeid soos dit met die meeste gebeur, maar ten minste ses na agt ure rus. Hou dus op om agter die bediening weg te kruip.

Bang wees is iets wat ʼn mens in die dag beleef. Die Bybel weet van watter stoffasie ons gemaak is, die Bybel, die Here, weet dat ons gespanne kan word oor die baie uitdagings wat met die lewe gepaard gaan. Derhalwe is daar bykans op elke bladsy van die Bybel ʼn bemoedigende belofte wat ons begelei.

Mense wat weet sê daar word 365 keer in die Bybel gesê: moenie bang wees nie.

Die Bybel is eerlik en realisties oor ons menswees. Dis gewone mense wat ons in die Bybel ontmoet, mense wat ook somtyds bang was.

Die digter sê dit so mooi: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. Dit is wonderlik dat die Here ons nie verguis en slegsê as ons bang word nie”.

Ja, daar is talle oproepe om nie bevrees te wees nie. Tog is ons somtyds besorg oor die talle onsekerhede waarmee ons as mense gekonfronteer word.

Alhoewel daar omstandighede mag wees wat ons ietwat onseker laat voel, mag ons nie vir God bang wees nie. Vrees vir die Here is die begin van wysheid sê die ou vertaling, maar dit is ʼn ander vrees as bang wees.

Hierdie vrees is om in afhanklikheid en nederigheid voor die Here te leef. Ons is nie God nie, ons is nietig en van verbygaande aard. Hy, daarenteen, is ewig en almagtig. Ons ken ons plek voor Hom. Ons buig in sy teenwoordigheid.

Dit is so merkwaardig dat ons nie vir God hoef bang te wees nie. Die Bybel sê dat waar die liefde volmaak geword het, verdwyn alle vrees.

As ons verstaan dat God ons buitengewoon lief het, leef ons nie in vrees nie. Nie vir Hom nie en ook nie vir ander nie.

As ons dan tog wel onseker voel, begelei die Woord van die Here ons om Hom weer en weer te vertrou, want niemand wat sy vertroue op die Here stel word teleurgestel nie. (Psalm 34)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.