ToekomsVenster: Vier die vrede

(Foto: Stephan Hauman)

Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie. – Johannes 14:27-31 (AFR53)

Dis vreemd. Dit kan sleg gaan maar dit affekteer jou nie soos jy gedink het dit sou nie. Jy staan verbaas voor die oënskynlike vermoë en veerkragtigheid wat jy openbaar om die onaardige situasie te hanteer.

Ander vind dit ewe opmerklik. Waarom disintegreer jy nie, vra hulle. Hoe kry jy dit reg om die swaar met grasie, geduld, selfs dankbaarheid te hanteer?

Jy dink vir ʼn wyle daaroor na. Dis God en sy genade, dink jy by jouself. Sonder Hom het ek lankal ondergegaan.

Jesus sê: My vrede gee ek vir julle. Nie die kortstondige en vals vrede van die wêreld nie. Hierdie is die Shalom Jahwe, omvattend, insluitend en genesend.

Dit is gebaseer op God se beloftes.

As jy deur die vuur moet gaan, sal die vlamme jou nie skroei nie. As jy deur die water moet gaan, sal dit jou nie oorweldig nie. Ek sal nie toelaat dat jy bo jou vermoë om te kan hanteer, beproef word nie. Ek is Immanuel, Ek is naby jou. Ek dra jou. Een ry spore op die sagte seestrand. God wat ons dra.

Ek weet nie wat die dag, die week, die lewe vir jou inhou nie. Ek weet God is genoeg. Ek weet Hy is getrou.

Vier sy vrede vandag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.