ToekomsVenster: Vier verhoudings

Foto ter illustrasie. (Foto:
Luana Azevedo/Unsplash)

“Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ʼn hulp maak wat by hom pas.” – Genesis 2:18 (AFR53)

Ons het gister verwys na God se allemintige skeppingshandelinge. Net ʼn woord en wat Hy ook al visualiseer het, het ontstaan.

Tot Hy by die mens gekom het. Miskien het God by homself redeneer, hier sal ek ʼn bietjie tyd moet neem, selfs goed dink.

Wat is dit, wie is dit en waarom wil Ek met hierdie handeling besig wees?

Met vernuftige vingers het God die eerste mens, ʼn uitdrukking van Homself, gemaak. Opgewonde het God na die mens gekyk. Dit was, hy was, goed.

Soos God het Adam die behoefte geuiter om ʼn gespreksgenoot te hê. Ja, God het inderdaad in daardie behoefte probeer voldoen, maar iets het geskort. “Iemand soos ek” was Adam se versugting.

Die Here luister na Adam se versugting en skep vir Eva as volwaardige gespreksgenoot vir Adam. Nou het Adam iemand om mee te gesels, die vreugdes en die hartseer van die lewe te deel.

“Iemand soos ek”, jubel Adam, ekstaties oor hierdie gawe wat God na om toe bring.

Vandag vier ons die gawe van mekaar, van die ander in ons lewens.

Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie.

Ons lees en dink oor die stelling na binne die konteks van die huwelik en dit is inderdaad waar.

Dit is egter ook waar van normale interpersoonlike verkeer.

Ons het ander mense nodig.

Dis hoe ons gemaak is.

Ons is nie geroep of bemagtig om kluisenaars te wees nie.

Min mense kry dit reg en selfs al kry hulle dit reg ontsê hulle hulself van die rykdom van betekenisvolle verhoudings.

Met wie deel jy spasie?

In konsentriese sirkels eers die mense naaste aan jou. Jou eggenoot, jou kinders, jou ouers, broers en susters.

Jou uitgebreide familie, neefs en niggies, ooms en tantes, oumas en oupas.

Sê sommer nou dankie Here.

Wat en wie sou ek wees sonder hulle?

Ons definieer mekaar, net die titel wat mense dra – soos pa en ma – is deel van hul identiteit. Seun en dogter, oom en tannie.

Deel van een kring.

Dan is daar die mense by die werkplek, jou kollegas. Die mense by die kerk, jou medegelowiges.

Die mense in my omgewing, jou bure.

Die mense in die land, jou medeburgers.

Die mense in die wêreld, die mense wat leef en wat reeds gesterf het, die mense wat my kultuur verteenwoordig en my taal praat.

Dan is daar Suid-Afrikaners, wit en swart en bruin. Elf, of is dit nou twaalf, tale?

Ek is nie alleen nie.

Jy is nie alleen nie.

Vier die mense wat die lewe vol, mooi, betekenisvol, selfs uitdagend maak.

Vier iemand in jou konteks vandag deur ʼn opregte kompliment.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.