ToekomsVenster: Vier vreugde

unsplash-sonneblomme-vreugde-lag-stiltetyd.jpg

(Foto: Unsplash/Antonino Visalli)

“ʼn Bedevaartslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos die wat droom. Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.” – Psalms 126:1-2 (AFR53)

Kinders is ʼn voorbeeld van vreugde.

Kyk maar na ʼn klompie kinders in ʼn speelpark. Sonder inhibisies en vry. Dit jil en gil asof die hele wêreld moet hoor. Die glimlagte speel van oor tot oor. Luidrugtig en bly oor die lewe.

Ons is groot, so dink ons. Grootmense gedra hulle. Grootmense dra die wêreld op hul skouers. Grootmense het nie tyd vir kinderspeletjies nie.

Dis hartseer dat ons so dink want ons is eintlik net maar kinders. God se kinders, weliswaar seuns en dogters, maar afhanklik van die Vader.

So bid ons ook. “Ons Vader wat in die hemel is”. Die Hebreeuse seuntjie en dogtertjie sou gesê het “Abba, Vader; Pappa, my pappa”.

Klink dit soos beswaarde grootmense wat soos Atlas verantwoordelikheid probeer neem vir die res van die wêreld?

Lag is deel van vreugde. Mense wat weet sê lag is terapeuties.

Suid-Afrikaners het die merkwaardige vermoë om die snaakse in goed raak te sien. Dis nie lank na een of ander trauma getref het nie en kwinkslae weerklink. Dis is nie lasterlik of in slegte smaak nie, maar dit maak die swaar ligter. Dit help ons om tot verhaal te kom.

Die ou mense het gesê “van lekker lag, kom lekker huil”. Hulle het vir ons gejok. Van lekker lag kom ʼn lekker dag, moet ons veel eerder spreek.

Geseënd is die grapjasse onder ons, die poetsbakkers, die wat ander se been trek, somtyds tot aanvanklike ergernis van die persoon, maar wat later ʼn skaterlag tot gevolg het.

Ons het meer stoutigheid nodig, mooi, ja, heilige en geheiligde stoutigheid.

Ek twyfel nie dat Jesus en sy dissipels grappies uitgeruil het nie. Stel jouself dit voor. Jesus sit saam met sy binnekring en vra, het julle al die een gehoor?

Dan luister almal aandagtig en word daar ekstra lekker gelag vir die een wat eers later agter die kap van die byl kom.

Lag vir jouself, jou lompheid, oor jou eie voete val. Jou maniërismes, gewoontetjies, voor- en afkeure.

Kyk in die spieël en praat met jouself. Lag vir jouself. Lag, al is daar nie ʼn grappie op die tafel nie.

Giggel, oefen die lagspiere. Trek jou mondhoeke na bo. Stry, jy lyk stukke beter en gesonder.

Ons gaan baie lag in die hemel.

Ja, ons gaan loof en prys, maar as ons gaan lag.

Lag omdat die swaarkry vir altyd verby is. Lag omdat ons geliefdes op ons wag.

Lag omdat die vriendelike Koning op die troon sit.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.