ToekomsVenster: Vlug na Jesus

(Foto: Matti Johnson/Unsplash)

“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” – Matt. 11:3

Ons gesels hierdie week oor twyfel. Twee belangrike beginsels het al ter sprake gekom. Die Bybel vertel ons van baie geloofshelde wat getwyfel het en geloof word nie op omstandighede gebou nie. Vandag is daar ʼn derde gedagte: wanneer twyfel op jou toesak vlug in die arms van Jesus in. Praat met Hom daaroor, eerlik, opreg en respekvol.

Agtien maande het verloop sedert Johannes die Doper Jesus in die Jordaan gedoop het. Daarmee breek die bediening van Jesus aan en het Johannes aan sy opdrag voldoen. Nou sit hy in ʼn tronk en wonder oor Jesus. Sy verwagting is soos in die geval van die dissipels dat daar ʼn sigbare vergestalting van die Koninkryk, die Messiasryk, op aarde sal deurbreek. Hy wag in spanning op nuus dat Jesus die sosiale orde op sy kop gekeer het, dat Goddelike pandemonium heers, dat die Romeine beskaamd en wapenloos staan en die nuwe era met brute krag vir hom ʼn pad oopbreek, maar dit is doodstil.

Johannes stuur van sy dissipels na Jesus toe met die vraag: “Is U die Een of moet ons ʼn ander Een verwag?”.

Die teleurstelling is duidelik en blatant. Jesus voldoen nie aan verwagtinge nie. Wonder of jy ook somtyds so voel?

Is Hy die Een of is ons vertroue misplaas. Moet ons ons heil op ʼn ander plek gaan soek want hierdie Jesus sien dat ons sukkel en swaarkry maar dit lyk asof Hy niks doen nie.

Jesus stuur vir Johannes ʼn boodskap, ek haal dit aan.

 Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.” – Matt.11:4-6

Interessant hoe Jesus op Johannes se twyfel reageer. Hy verwyt Johannes nie en beskuldig hom van arrogansie nie. “Johannes, jy moet darem jou plek ken, onthou, jy is net die wegbereider, jy is nie die Weg nie. Jy behoort van beter te weet as om twyfel in die harte van mense te saai”.

Jesus doen dit nie. Hy antwoord Johannes kalm en rustig sonder om te verwyt: “Dowes hoor en blindes sien. Melaatses word gereinig en die dooies word opgewek. Ja Johannes, Ek is die Een maar nie op die wyse waarop jy gehoop het nie. Vertrou my.”

Johannes verdien ʼn pluimpie, sy twyfelvrae neem Hy na Jesus toe. Jy roep nie ʼn paar mense saam en besluit om Jesus te dwarsboom nie. Hy verwyt Jesus nie deur Hom te beledig en sleg te sê nie. Alhoewel blatant en eerlik, vra hy wat hy wil vra aan die Een vir wie dit raak. “Is U die Een, of nie”.

Jesus is die Een, die Verlosser, die Messiaskoning, die Weg, Waarheid en die Lewe. Hy doen meermale nie soos ons wil hê Hy moet doen nie. Daar is dinge wat verborge is en waarvan ons niks verstaan nie. Onthou Jesus se antwoord aan die dissipels met sy Hemelvaart.

“Kom tot die Heer met al U verdriet

kom nou na Hom wat redding U bied

Hy het Sy Bloed vir sondaars vergiet

Hoor na Sy roepstem kom”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U Gees ons ook in ons twyfel bystaan…..U genade is elke dag nuut…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.