ToekomsVenster: Voor die regterstoel van Christus

(Foto: Leon Biss/Unsplash.)

Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie. – Prediker 7:20

Ons kuier hierdie week nog ʼn bietjie in die koerant en kyk wat die Bybel oor al die interessante dinge wat gebeur sê. Die Bybel is God se Woord en volledig relevant vir ons leefwêreld. Dit sou ons niks baat as die Bybel net ʼn antieke geskrif was wat geen betrekking op vandag en elke dag het nie. Miskien moet ons onsself afvra in watter mate ons inderdaad die Bybel as rigtinggewend en betekenisvol vir ons lewens beskou?

Tans is die vervolging van persone wat by staatskaping betrek word op almal se lippe. Mense kan nie wag dat die reg sy loop neem en skuldiges aan die pen ry nie. Ek lees iewers ʼn syfer van R1 000 miljard wat deur staatskaping verduister is. Die finansiële uitwerking is maar net ʼn gedeelte van die verwoestende invloed wat die jare onder ons voormalige staatspresident gehad het.

Dat oortreders inderdaad vervolg moet word, staan vas. Die Bybel werk immers ook met dieselfde beginsels. Oortredings moet gestraf word. Die geregtigheid van God vereis dit. Ons staan almal skuldig voor God. Daar is niemand wat na God vra nie, sê die teks in Romeine.  “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie”.

Daar is egter vir staatskapers dieselfde genade as vir elke ander mens sou hulle in nederige afhanklikheid by die Here om genade pleit. Dit is die enigste pad na die Vader. Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe.

Dit beteken nie dat die normale prosesse van die reg nie gevolg word nie. Waar oortredings begaan is, moet straf volg.

Daar is egter ʼn groter straf as ʼn aardse regbank. Dit is om eendag voor die troon van God te staan, wanneer die boeke geopen word en elkeen geoordeel word volgens dit wat hy gedoen het, of die goed was of sleg.

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad. – 2 Kor. 5:10

Dank die Here dat die Bybel ook leer in Romeine 8:1:

Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.

Het jy al met God gepraat oor die goed wat pla?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.