ToekomsVenster: Waar is God?

(Foto: Stephan Hauman)

“Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou’.” – Psalms 91:1-2

Sjoe, daar gebeur darem vreeslike goed met mense. Dat ʼn mens ietwat ontsenu en onveilig voel in hierdie wêreld, is inderdaad so.

Stel jouself dit voor, jy bevind jouself in die middestad van Johannesburg en skielik skeur die teerpad in twee. Motors word die lug ingeslinger. Mense staan verdwaas en asof in ʼn waas doen hulle nie wat ʼn mens sou dink die aangewese optrede is nie. In plaas daarvan om pad te gee en weg te kom, staan hulle nader om te probeer verstaan wat gebeur het.

Dis maar een voorbeeld van ʼn wêreld wat gevaarlik geword het.

Aardbewings, vloede soos die wat ons die afgelope tyd ervaar het, bosbrande wat vir dae aaneen woed en nie geblus kan word nie maar tientalle eiendomme verwoes.

Dink aan die hartseer wat beleef word in die dig bewoonde plakkerskampe waar ʼn brand bykans alle strukture verwoes. Al wat oorbly is gebuigde sinkplate wat, as gevolg van die hitte, misvorm is.

Dan die verdwaasde figure wat uit die rommel iets probeer bymekaar maak waarmee ʼn volgende struktuur opgerig kan word. Tragies en hartseer om die minste te sê.

Mense worstel met baie vrae. Waar is God as dit so stukkend is? Kon Hy die motorongeluk nie keer nie? Waarom is hierdie jong kind in Garsfontein so tragies dood?

Ag, die voorbeelde is legio, ook die vrae wat daarmee gepaard gaan.

Waar is God, waarom tree Hy nie toe nie, waarom voorkom Hy nie al die ellende waarmee ons gekonfronteer word nie?

Die antwoord op hierdie vraag ontwyk ʼn mens voortdurend. Jy vind vrede en besluit om Hom die voordeel van die twyfel te gee, net om weer ontstel te word.

Dis menslik, dis eie aan die Psalms. Dis eerlik, dis broos en menslik.

Jesus verkeer in doodsangs op die vooraand van sy kruisiging. Hy roep uit dat Hy Godverlate is. As Hy, die Seun van die mens, die groot Ek, dan in sy mensheid worstel om die teenwoordigheid van sy Vader te beleef, hoekom sou dit anders met ons as mense wees.

Ek dink dat die Here ʼn baie hoë premie stel op eerlikheid. Psalms 139 sê dit so mooi, Hy wys ʼn gebroke en verslae gees nooit weg nie.

Feit van die saak, ongeag ons interpretasie van en ons belewenis van omstandighede, Hy is Immanuel, God met ons.

Hy het gesê ek sal jou nooit begewe en nooit verlaat nie.

Omstandighede mag so donker wees as wat dit wil, wat God sê en belowe is die groter werklikheid.

Altyd.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre77 ·

Johannes 4:24
God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

God laat nie slegte dinge met mens gebeur nie. Dit is aards en mense volg die aardse dinge.

OW ·

“Ek dink dat die Here ‘n baie hoë premie stel op eerlikheid”So waar ds Jannie.Eerlikheid,in jou huwelik,belasting,finansies,kinders,werk,vriende,ontspanning,stokperdjies,huishouding,al jou doen en late,noem maar op.Dan wonder mense hoekom sekere dinge gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.